PSALMS 103

103
Loof die Here, die genadige en barmhartige God!
1 'n PSALM van Dawid.
Loof die Here, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam!
2Loof die Here, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie!
3Wat al jou ongeregtigheid vergewe, wat al jou krankhede genees,
4wat jou lewe verlos van die verderf, wat jou kroon met goedertierenheid en barmhartighede,
5wat jou siel versadig met die goeie, sodat jou jeug weer nuut word soos dié van 'n arend.
6Die Here doen geregtigheid en reg aan almal wat verdruk word.
7 Hy het aan Moses sy weë bekend gemaak, aan die kinders van Israel sy dade.
8 Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en groot van goedertierenheid.
9 Hy sal nie vir altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie.
10Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie.
11Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees.
12So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.
13 Soos 'n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die Here Hom oor die wat Hom vrees.
14Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is.
15Die mens — soos die gras is sy dae; soos 'n blom van die veld, so bloei hy.
16As die wind daaroor gaan, is dit nie meer nie en sy plek ken hom nie meer nie.
17Maar die goedertierenheid van die Here is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees, en sy geregtigheid vir kindskinders,
18vir die wat sy verbond hou en aan sy bevele dink om dié te doen.
19Die Here het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles.
20Loof die Here, sy engele, kragtige helde wat sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord!
21Loof die Here, al sy leërskare, sy dienaars wat sy welbehae doen!
22 Loof die Here, al sy werke, op al die plekke van sy heerskappy! Loof die Here, o my siel!

Tans Gekies:

PSALMS 103: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid