LUKAS 7:40-50
LUKAS 7:40-50 AFR53
En Jesus antwoord en sê vir hom: Simon, Ek het iets om aan jou te sê. En hy antwoord: Meester, spreek. Hy sê toe: 'n Sekere geldskieter het twee skuldenaars gehad; die een het vyfhonderd pennings geskuld en die ander een vyftig; en omdat hulle niks gehad het om te betaal nie, het hy dit aan altwee geskenk. Sê nou, wie van hulle sal hom die meeste liefhê? En Simon antwoord en sê: Ek veronderstel dié een aan wie hy die meeste geskenk het. En Hy antwoord hom: Jy het reg geoordeel. Daarop draai Hy om na die vrou en sê vir Simon: Sien jy hierdie vrou? Ek het in jou huis gekom — water het jy nie vir my voete gegee nie; maar sy het met haar trane my voete natgemaak en met die hare van haar hoof afgedroog. 'n Soen het jy My nie gegee nie; maar sy het, vandat sy ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie. Met olie het jy my hoof nie gesalf nie; maar sy het my voete met salf gesalf. Daarom sê Ek vir jou: Haar sondes wat baie is, is vergewe, want sy het baie liefgehad; maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief. En Hy sê vir haar: Jou sondes is vergewe. Toe begin die wat aan tafel was, by hulleself te sê: Wie is hierdie man wat selfs die sondes vergewe? En Hy sê vir die vrou: Jou geloof het jou gered; gaan in vrede.





