JOSUA 8

8
Inneming en verwoesting van Ai.
1DAAROP sê die Here vir Josua: Wees nie bevrees of verskrik nie; neem al die weerbare manskappe met jou saam en maak jou klaar, trek op na Ai; kyk, Ek gee die koning van Ai en sy volk en sy stad en sy land in jou hand.
2En jy moet met Ai en sy koning doen soos jy met Jérigo en sy koning gedoen het; net sy buit en sy vee mag julle vir julself buitmaak. Stel vir jou 'n hinderlaag op teen die stad, aan die agterkant.
3Toe het Josua hom gereedgemaak met al die weerbare manskappe om op te trek na Ai, en Josua het dertigduisend man, dapper helde, uitgesoek en hulle in die nag uitgestuur
4en aan hulle bevel gegee en gesê: Kyk, julle moet teen die stad 'n hinderlaag opstel, aan die agterkant van die stad; moenie te ver van die stad af weggaan nie, en hou julle almal gereed;
5en ek met al die manskappe wat by my is, ons sal na die stad toe aankom; as hulle dan 'n uitval maak om ons te ontmoet, soos die vorige keer, sal ons voor hulle uit vlug;
6en hulle sal uittrek agter ons aan totdat ons hulle van die stad afgesny het — want hulle sal dink: Hulle vlug voor ons uit soos die vorige keer — en ons sal voor hulle uit vlug.
7Dan moet julle uit die hinderlaag opstaan en die stad inneem; want die Here julle God sal dit in julle hand gee.
8En as julle die stad verower het, moet julle die stad aan die brand steek, na die woord van die Here moet julle handel; kyk, ek gee julle bevel.
9So het Josua hulle dan uitgestuur, en hulle het getrek na die hinderlaag en gebly tussen Bet-el en Ai, aan die westekant van Ai; maar Josua het dié nag onder die manskappe deurgebring.
10Die môre vroeg het Josua hom klaargemaak en die manskappe gemonster en opgetrek met die oudstes van Israel, op die voorpunt van die manskappe, na Ai toe.
11En al die weerbare manskappe wat by hom was, het opgetrek en nader gegaan en teenoor die stad gekom, en hulle het laer opgeslaan aan die noordekant van Ai, sodat die dal tussen hulle en Ai was.
12So het hy dan omtrent vyfduisend man geneem en hulle in 'n hinderlaag opgestel tussen Bet-el en Ai, aan die westekant van die stad.
13En hulle het die manskappe opgestel, die hele leër wat noordelik van die stad was, met sy agterhoede aan die westekant van die stad, maar Josua het dieselfde nag die laagte ingetrek.
14En toe die koning van Ai dit merk, het die manne van die stad hulle in die vroegte gou klaargemaak en uitgetrek om Israel in die geveg te ontmoet, hy en al sy manskappe, op 'n afgesproke plek voor die vlakte; maar hy het nie geweet dat daar vir hom agter die stad 'n hinderlaag lê nie.
15En Josua en die hele Israel het hul laat verslaan voor hulle en gevlug in die rigting van die woestyn.
16Al die manskappe in die stad is toe opgeroep om hulle agterna te jaag; en terwyl hulle Josua agtervolg, is hulle van die stad afgesny,
17sodat niemand in Ai en Bet-el oorgebly het wat nie agter Israel aan uitgetrek het nie; en hulle het die stad oop laat staan en Israel agternagejaag.
18En die Here het vir Josua gesê: Steek die spies wat in jou hand is, na Ai toe uit, want Ek wil dit in jou hand gee. Daarop steek Josua die spies wat in sy hand was, na die stad uit.
19En die hinderlaag het gou van sy plek af opgestaan en gestorm net toe hy sy hand uitgesteek het, en hulle het in die stad ingekom en dit ingeneem en die stad gou aan die brand gesteek.
20Toe die manne van Ai agter hulle omkyk, sien hulle hoe die rook van die stad na die hemel optrek; maar hulle het geen kans gehad om hierheen of daarheen te vlug nie, want die manskappe wat op die vlug was na die woestyn, het omgedraai teen die vervolgers.
21Toe Josua en die hele Israel sien dat die hinderlaag die stad inneem en dat die rook van die stad opstyg, het hulle omgedraai en die manne van Ai aangeval.
22Daarop trek dié uit die stad hulle tegemoet, sodat hulle tussen Israel in geraak het, 'n deel duskant en 'n deel anderkant; en hulle het hul verslaan totdat daar niemand van hulle oor was wat vrygeraak of ontvlug het nie.
23Maar hulle het die koning van Ai lewendig gevang en hom na Josua gebring.
24En nadat Israel al die inwoners van Ai in die veld, in die woestyn waar hulle hul agtervolg het, geheel en al van kant gemaak het, en hulle almal tot die laaste een toe deur die skerpte van die swaard geval het, het die hele Israel teruggekom na Ai en dit met die skerpte van die swaard verslaan.
25Al die gesneuweldes op dié dag, manne sowel as vroue, was twaalf duisend — al die mense van Ai.
26En Josua het sy hand met die uitgestrekte spies nie teruggetrek voordat hy al die inwoners van Ai met die banvloek getref het nie.
27Net die vee en die buit van daardie stad het die Israeliete vir hulle buitgemaak, volgens die woord van die Here wat Hy Josua beveel het.
28Toe het Josua Ai verbrand en daarvan 'n puinhoop gemaak vir ewig, 'n wildernis tot vandag toe.
29 En die koning van Ai het hy aan 'n paal opgehang tot die aand toe; maar teen sonsondergang het Josua bevel gegee, en hulle het sy lyk van die paal afgehaal en dit by die ingang van die stadspoort gegooi en 'n groot hoop klippe op hom gestapel wat vandag nog daar is.
Die wet word opgeskrywe en daarna gelees op die berge Gerísim en Ebal.
30TOE het Josua 'n altaar gebou vir die Here, die God van Israel, op die berg Ebal,
31soos Moses, die kneg van die Here, die kinders van Israel beveel het, soos geskrywe staan in die wetboek van Moses: 'n Altaar van ongekapte klippe waaroor geen yster geswaai is nie; en dáárop het hulle aan die Here brandoffers gebring en dankoffers geslag.
32En daar het hy 'n afskrif van die wet van Moses op die klippe geskrywe, wat hy geskrywe het voor die oë van die kinders van Israel,
33terwyl die hele Israel met sy oudstes en die opsigters en sy regters aan weerskante van die ark staan — teenoor die Levitiese priesters, die draers van die verbondsark van die Here — die vreemdeling sowel as die kind van die land: die een helfte daarvan teen die berg Gerísim en die ander helfte daarvan teen die berg Ebal, soos Moses, die kneg van die Here, tevore bevel gegee het om die volk van Israel te seën.
34En daarna het hy al die woorde van die wet voorgelees, die seën en die vloek, net soos dit geskrywe staan in die wetboek.
35Daar was geen woord van alles wat Moses beveel het, wat Josua nie voorgelees het voor die hele vergadering van Israel, met die vroue en die kinders en die vreemdeling wat onder hulle saamgetrek het nie.

Tans Gekies:

JOSUA 8: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid