RIGTERS 8

8
Moeilikhede met Efraim. Sukkot en Pnuel. Gídeon weier om oor Israel te regeer.
1 TOE sê die manskappe van Efraim vir hom: Wat is dit wat u ons aangedoen het, dat u ons nie geroep het toe u weggetrek het om teen die Midianiete te veg nie? En hulle het heftig met hom getwis.
2Maar hy sê vir hulle: Wat het ek nou gedoen in vergelyking met julle? Is die na-oes van Efraim nie beter as die wynoes van Abiëser nie?
3 God het die vorste van Mídian, Oreb en Seëb, in julle hand gegee, maar wat kon ek doen in vergelyking met julle? Toe bedaar hulle opgewondenheid teenoor hom nadat hy hierdie woord gespreek het.
4En Gídeon het gekom by die Jordaan, en hy en die driehonderd man wat by hom was, het oorgetrek, moeg en besig om te agtervolg.
5En hy sê aan die manne van Sukkot: Gee tog broodjies vir die manskappe wat op my voetspore volg, want hulle is moeg, en ek is besig om Seba en Sálmuna, die konings van die Midianiete, agterna te jaag.
6Maar die vorste van Sukkot vra: Is die handpalm van Seba en van Sálmuna nou al in u hand, dat ons aan u leër brood moet gee?
7Toe sê Gídeon: Daarom, as die Here Seba en Sálmuna in my hand gee, sal ek julle vlees met woestyndorings en distels dors.
8En daarvandaan het hy opgetrek na Pnuel en met hulle net so gespreek; maar die manne van Pnuel het hom geantwoord net soos die manne van Sukkot geantwoord het.
9Daarop spreek hy ook met die mense van Pnuel en sê: As ek met vrede terugkom, sal ek hierdie toring omgooi.
10Seba en Sálmuna was toe in Karkor, en hul leër by hulle, omtrent vyftienduisend, al wat oor was uit die hele leër van die kinders van die Ooste; maar die gesneuweldes was honderd-en-twintigduisend man wat die swaard kon uittrek.
11En Gídeon het opgetrek met die pad van die tentbewoners, ten ooste van Nobag en Jógbeha, en hy het die leër verslaan terwyl die leër gerus was.
12En Seba en Sálmuna het gevlug, maar hy het hulle agternagejaag en die twee konings van Mídian, Seba en Sálmuna, gevang nadat hy die hele leër uiteengejaag het.
13En toe Gídeon, die seun van Joas, terugkom uit die geveg, van die nek Heres af,
14vang hy 'n seun van die mense van Sukkot en vra hom uit; en dié het vir hom die vorste van Sukkot en sy oudstes opgeskrywe, sewen-en-sewentig man.
15En toe hy by die mense van Sukkot kom, sê hy: Hier is Seba en Sálmuna oor wie julle my gesmaad het deur te sê: Is die handpalm van Seba en van Sálmuna nou al in u hand, dat ons aan u vermoeide manskappe brood moet gee?
16Daarop neem hy die oudstes van die stad saam met die woestyndorings en die distels, en hy het die manne van Sukkot daarmee 'n les geleer.
17 En die toring van Pnuel het hy omgegooi en die manne van die stad gedood.
18En hy het Seba en Sálmuna gevra: Wat vir manne was dit wat julle by Tabor gedood het? En hulle antwoord: Soos u, so was hulle: elkeen van gestalte koninklike seuns.
19Daarop sê hy: Dit was my broers, seuns van my moeder. So waar as die Here leef, as julle hulle laat leef het, sou ek julle nie doodmaak nie.
20En hy sê aan Jeter, sy eersgeborene: Staan op, maak hulle dood! Maar die seun het sy swaard nie uitgetrek nie, omdat hy bang was; want hy was nog 'n seun.
21Toe sê Seba en Sálmuna: Staan u self op en val op ons aan, want soos die man is, is sy krag. Gídeon het toe opgestaan en Seba en Sálmuna gedood, en die maantjies wat aan die nekke van hulle kamele was, het hy geneem.
22Daarop sê die manne van Israel vir Gídeon: Heers oor ons, u sowel as u seun en u kleinseun, want u het ons verlos uit die hand van die Midianiete.
23Maar Gídeon antwoord hulle: Ek wil nie oor julle heers nie, en ook my seun mag nie oor julle heers nie: die Here sal oor julle heers.
24Verder het Gídeon vir hulle gesê: Ek wil aan julle 'n versoek doen: Gee nou elkeen vir my die ring uit sy buit! Want hulle het goue ringe gedra, omdat hulle Ismaeliete was.
25Toe sê hulle: Ons wil dit graag gee; en hulle het 'n mantel uitgesprei en elkeen 'n ring van sy buit daarop gegooi.
26En die gewig van die goue ringe wat hy gevra het, was sewentienhonderd sikkels goud, behalwe die maantjies en die oorversiersels en purper klere wat die konings van Mídian gedra het, en behalwe die kettings wat aan die nekke van hulle kamele was.
27En Gídeon het daar 'n skouerkleed van gemaak en dit in sy stad, in Ofra, opgestel; en die hele Israel het dit daar agternagehoereer, en dit het vir Gídeon en sy huis 'n strik geword.
28So moes die Midianiete dan buig voor die kinders van Israel, en hulle het hul hoof nie meer opgetel nie; en die land het in Gídeon se dae veertig jaar lank gerus.
29En Jerúbbaäl, die seun van Joas, het in sy huis gaan woon.
30En Gídeon het sewentig seuns gehad wat uit sy lende voortgekom het, want hy het baie vroue gehad.
31En sy byvrou wat in Sigem was, het ook vir hom 'n seun gebaar, en hy het hom die naam Abiméleg gegee.
32En Gídeon, die seun van Joas, het gesterf in goeie ouderdom en is begrawe in die graf van sy vader Joas, in Ofra van die Abiësriete.
33Maar net toe Gídeon dood was, het die kinders van Israel weer die Baäls agternagehoereer en van Baäl-Berít vir hulle 'n god gemaak.
34En die kinders van Israel het nie gedink aan die Here hulle God wat hulle uit die hand van al hul vyande rondom gered het nie.
35 En hulle het geen guns bewys aan die huis van Jerúbbaäl, dit is Gídeon, vir al die goed wat hy aan Israel gedoen het nie.

Tans Gekies:

RIGTERS 8: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid