RIGTERS 7

7
Driehonderd Israeliete verdryf die Midianiete.
1DAARNA het Jerúbbaäl, dit is Gídeon, en al die manskappe wat by hom was, vroeg klaargemaak, en hulle het laer opgeslaan by die fontein Harod, terwyl die laer van die Midianiete ten noorde van hom was, van die heuwel More af in die dal.
2Toe sê die Here vir Gídeon: Die manskappe by jou is te veel vir My om die Midianiete in hulle hand te gee; anders kan Israel hom teen My beroem deur te sê: My eie hand het my verlos.
3Roep dan nou tog uit voor die ore van die manskappe en sê: Die wat bang is en bewe, kan teruggaan en wegdraai van die gebergte van Gílead af. Toe het daar van die manskappe twee-en-twintigduisend omgedraai, en tienduisend het oorgebly.
4Daarop sê die Here vir Gídeon: Die manskappe is nog te veel; bring hulle af na die water, dan sal Ek hulle daar vir jou uitsoek; en van wie Ek aan jou sê: Hierdie een mag met jou saamgaan — dié mag met jou saamgaan; maar elkeen van wie Ek aan jou sê: Hierdie een mag nie met jou saamgaan nie — dié mag nie gaan nie.
5Hy bring toe die manskappe af na die water; en die Here sê vir Gídeon: Elkeen wat met sy tong die water oplek soos 'n hond lek, moet jy eenkant laat staan; en elkeen wat op sy knieë vooroor buig om te drink, anderkant.
6En die aantal van die wat gelek het met hul hand na hul mond toe, was driehonderd man; en al die ander manskappe het op hulle knieë vooroor gebuig om water te drink.
7Toe sê die Here vir Gídeon: Deur die driehonderd man wat gelek het, sal Ek julle verlos en die Midianiete in jou hand gee; maar al die ander manskappe kan elkeen na sy woonplek gaan.
8Daarop neem hulle die padkos van die manskappe en hulle ramshorings in hul hand; en hy het al die manskappe van Israel laat gaan, elkeen na sy tente toe; maar die driehonderd man het hy agtergehou, terwyl die laer van die Midianiete onderkant hom in die laagte was.
9En daardie nag het die Here vir hom gesê: Staan op, gaan af in die laer, want Ek gee dit in jou hand.
10En as jy bang is om af te gaan, gaan jy dan saam met jou dienaar Pura af na die laer toe
11 en luister wat hulle praat; en daarna sal jou hande sterk word, en jy sal in die laer aftrek. Hy gaan toe af saam met sy dienaar Pura tot by die buitenste lyn van die gewapendes wat in die laer was.
12En die Midianiete en Amalekiete en al die kinders van die Ooste het in die laagte gelê soos sprinkane in menigte, en hulle kamele was ontelbaar soos die sand aan die seestrand in menigte.
13En toe Gídeon aankom, vertel 'n man aan 'n ander juis 'n droom en sê: Kyk, ek het 'n droom gehad: Daar rol 'n hard gebakte garsbrood in die laer van die Midianiete en kom tot by die tent en slaan dit dat dit omval en keer dit onderstebo, en toe lê die tent daar!
14En die ander een het geantwoord en gesê: Dit is niks anders nie as die swaard van Gídeon, die seun van Joas, die Israeliet; God het die Midianiete en die hele laer in sy hand gegee.
15Toe Gídeon dan die verhaal van die droom en sy uitlegging hoor, het hy aanbid; en hy het teruggekeer na die laer van Israel en gesê: Maak klaar, want die Here gee die laer van die Midianiete in julle hand.
16En hy het die driehonderd man verdeel in drie dele en aan hulle almal ramshorings en leë kruike, met fakkels binne-in die kruike, in die hand gegee
17en aan hulle gesê: Kyk na my en maak net so; en kyk, as ek by die buitenste lyn van die laer kom, dan moet julle maak net soos ek maak.
18En as ek en almal wat by my is, op die ramshoring blaas, moet julle ook op die ramshorings blaas rondom die hele laer, en julle moet sê: Vir die Here en vir Gídeon!
19Toe kom Gídeon en die honderd man wat by hom was, by die buitenste lyn van die laer, met die begin van die middelste nagwaak toe hulle skaars die wagte uitgesit het, en hulle blaas op die ramshorings en slaan die kruike stukkend wat hulle in hul hand gehad het.
20Toe blaas die drie dele op die ramshorings en breek die kruike en hou met hulle linkerhand die fakkels en met hulle regterhand die ramshorings om te blaas, terwyl hulle uitroep: Die swaard van die Here en van Gídeon!
21En hulle het bly staan elkeen op sy plek, rondom die laer. Daarop hardloop die hele laer, en hulle skreeu en vlug.
22En toe die driehonderd op die ramshorings blaas, het die Here die swaard van die een teen die ander gerig, ja, in die hele laer; en die laer het gevlug na Bet-Sitta, na Seréda toe, tot by die oewer van Abel-Mehóla by Tabbat.
23En die manskappe van Israel uit Náftali en uit Aser en uit die hele Manasse is opgeroep, en hulle het die Midianiete agternagejaag.
24Ook het Gídeon boodskappers gestuur in die hele gebergte van Efraim om te sê: Trek af die Midianiete tegemoet, en sny hulle van die waters af tot by Bet-Bara en die Jordaan. So het dan al die manskappe van Efraim bymekaargekom en die waters beset tot by Bet-Bara en die Jordaan.
25En hulle het twee vorste van die Midianiete gevang, Oreb en Seëb; en Oreb het hulle gedood by die rots Oreb, en Seëb gedood by die parskuip Seëb, en hulle het die Midianiete agtervolg; en die hoof van Oreb en van Seëb het hulle na Gídeon gebring, oorkant die Jordaan.

Tans Gekies:

RIGTERS 7: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid