JESAJA 33

33
Assur word gevonnis.
1WEE jou, verwoester, wat self nie verwoes is nie, en troubreker teen wie nie troueloos gehandel is nie! As jy klaar is met verwoes, sal jy verwoes word; en as jy klaar is met troubreuk, sal hulle troueloos teen jou handel.
2 Here, wees ons genadig, op U wag ons; wees hulle arm elke môre, ja, ons verlossing in die tyd van benoudheid!
3Vir die dawergeluid vlug die volke; vanweë u verheffing word die nasies verstrooi.
4Dan word julle buit weggeskraap soos sprinkane wegskraap; soos sprinkane hardloop, hardloop hulle daarop los.
5 Die Here is verhewe, want Hy woon in die hoogte; Hy het Sion vervul met reg en geregtigheid.
6En daar sal bestendigheid van jou tye wees, 'n rykdom van volle verlossing, van wysheid en kennis; die vrees van die Here sal sy skat wees.
7Kyk, die helde skreeu daarbuite, die boodskappers van vrede ween bitterlik.
8 Die grootpaaie is verlate; die wat padlangs trek, bly weg. Hy het die verbond verbreek, die stede gering geag, mense nie gereken nie.
9 Die land treur, dit verwelk; die Líbanon staan beskaamd, dit verkwyn; Saron het geword soos 'n woestynvlakte, Basan en Karmel staan sonder blare.
10 Nou sal Ek opstaan, sê die Here; nou sal Ek My verhef, nou sal Ek My oprig.
11Julle gaan swanger van strooi, julle sal stoppels baar; julle geblaas is 'n vuur wat julle sal verteer.
12Dan word die volke 'n kalkbrandery, afgekapte doringbosse wat met vuur verbrand word.
13Hoor, julle wat ver is, wat Ek gedoen het; en julle wat naby is, erken my mag!
14Die sondaars in Sion bewe, siddering het die roekelose aangegryp. Hulle sê: Wie van ons kan woon by 'n verterende vuur, wie van ons kan woon by 'n ewige gloed?
15Hy wat in geregtigheid wandel en spreek wat reg is, wat gewin deur afpersinge versmaad, wat sy hande uitskud om geen omkoopgeskenk aan te gryp nie, wat sy oor toestop om van geen bloedskuld te hoor nie, en sy oë sluit om wat sleg is, nie te sien nie —
16 hy sal op hoogtes woon, rotsvestings is sy burg; sy brood word hom gegee, sy water is gewis.
17Jou oë sal die Koning in sy skoonheid aanskou, dit sal 'n wyd uitgestrekte land sien.
18Jou hart sal die deurgestane verskrikking oordink en sê: Waar is hy wat getel het? Waar is hy wat geweeg het? Waar is hy wat die torings opgeskryf het?
19 Jy sal die onbeskaamde volk nie meer sien nie, die volk met duister, onverstaanbare spraak, met onbegryplike hakkeltong.
20Aanskou Sion, die stad van ons feestelike samekoms! Jou oë sal Jerusalem sien as veilige woonplek, as tent wat nie wegtrek nie, waarvan die penne nooit meer uitgeruk word nie en geeneen van sy toue ooit losgeskeur word nie.
21Maar daar sal die Here vir ons heerlik wees; dit sal 'n plek van riviere wees, van breë strome; geen vloot van roeiskepe sal daarop vaar nie, en geen trotse skip sal daaroor gaan nie.
22Want die Here is ons Regter, die Here is ons Aanvoerder, die Here is ons Koning: Hý sal ons verlos.
23Jou toue hang slap, hulle hou die voetstuk van hulle mas nie styf nie, hulle ontplooi nie die banier nie; dan word roofbuit verdeel in menigte, selfs die lammes maak buit.
24En geen inwoner sal sê: Ek is siek nie; aan die mense wat daarin woon, is die skuld vergewe.

Tans Gekies:

JESAJA 33: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid