PREDIKER 10

10
Onheile van die dwaasheid.
1DOOIE vlieë laat die salf van die apteker stink en bederwe; 'n bietjie dwaasheid weeg swaarder as wysheid, as eer.
2Die hart van die wyse is na regs, maar die hart van 'n dwaas is na links.
3Ja, ook as die dwaas op die weg wandel, ontbreek sy verstand; en hy sê aan elkeen dat hy 'n dwaas is.
4As die toorn van die heerser teen jou opkom, verlaat nie jou pos nie, want bedaardheid voorkom groot foute.
5Daar is 'n verkeerdheid wat ek onder die son gesien het, 'n dwaling wat van die maghebber uitgaan:
6die dwaasheid word op groot hoogtes gestel, en die rykes moet in die vernedering sit.
7 Ek het slawe te perd gesien en vorste wat soos slawe op die grond loop.
8 Wie 'n kuil grawe, kan daarin val; en een wat 'n muur afbreek, 'n slang kan hom byt.
9Wie klippe uitbreek, kan hom daarmee seermaak; wie hout klowe, kan daardeur in gevaar kom.
10As die yster stomp geword het, en 'n mens die snykant nie geslyp het nie, moet hy die kragte meer inspan; maar wysheid is voordelig om iets te laat beantwoord.
11As die slang byt voor die beswering, baat die besweerder nie.
12 Die woorde uit die mond van 'n wyse is aangenaam, maar die lippe van 'n dwaas verslind homself.
13Die begin van die woorde van sy mond is dwaasheid, en die einde van sy mond is skadelike onverstandigheid.
14 En die dwaas gebruik baie woorde; maar die mens weet nie wat daar sal gebeur nie; en wat ná hom sal wees, wie kan hom dit te kenne gee?
15Die inspanning van die dwaas vermoei hom, omdat hy nie eens weet om na die stad te gaan nie.
16Wee jou, o land, as jou koning 'n kind is, en as jou vorste in die môre vroeg maaltyd hou.
17Gelukkig is jy, o land, as jou koning 'n edele is, en as jou vorste op die regte tyd maaltyd hou soos manne en nie soos drinkers nie.
18Deur allerhande luiheid versak die balkwerk, en deur slapheid van die hande lek die huis.
19Vir plesier maak hulle maaltye klaar, en die wyn maak die lewe vrolik, en die geld verskaf alles.
20Vloek die koning selfs in jou gedagte nie, en vloek in jou slaapkamer die ryke nie; want die voëls van die hemel sou die geluid kon wegvoer, en die gevleueldes die woord te kenne gee.

Tans Gekies:

PREDIKER 10: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid