DEUTERONÓMIUM 34

34
Dood en begrafnis van Moses.
1TOE het Moses opgeklim uit die vlaktes van Moab na die berg Nebo, die top van Pisga wat teenoor Jérigo lê; en die Here het hom die hele land, Gílead tot Dan toe, laat sien;
2en die hele Náftali en die land Efraim en Manasse en die hele land Juda tot by die Westelike See;
3en die Suidland en die Jordaanstreek, die laagte van Jérigo, die palmstad, tot by Soar.
4En die Here het vir hom gesê: Dit is die land wat Ek aan Abraham, Isak en Jakob met 'n eed beloof het met die woorde: Aan jou nageslag sal Ek dit gee; Ek het jou dit met jou oë laat sien, maar jy sal daarheen nie oortrek nie.
5Toe het Moses, die kneg van die Here, daar gesterwe in die land Moab, volgens die bevel van die Here.
6En Hy het hom in die dal in die land Moab, teenoor Bet-Peor, begrawe; en niemand het tot vandag toe sy graf geken nie.
7 En Moses was honderd-en-twintig jaar oud toe hy gesterf het; sy oog was nie verswak nie, en sy krag het nie vergaan nie.
8Toe het die kinders van Israel Moses beween in die vlaktes van Moab, dertig dae lank. En die dae van die geween, van die rou oor Moses, het ten einde gekom.
9En Josua, die seun van Nun, was vol van die Gees van wysheid; want Moses het hom die hande opgelê. En die kinders van Israel het na hom geluister en gedoen soos die Here Moses beveel het.
10En soos Moses, vir wie die Here van aangesig tot aangesig geken het, het daar geen profeet meer in Israel opgestaan nie —
11wat betref al die tekens en die wonders wat die Here hom opgedra het om in Egipteland aan Farao en aan al sy dienaars en sy hele land te doen,
12en wat betref die hele magsopenbaring en al die groot, skrikwekkende dade wat Moses voor die oë van die hele Israel gedoen het.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid