DEUTERONÓMIUM 28:1-14

DEUTERONÓMIUM 28:1-14 AFR53

AS jy dan goed luister na die stem van die HERE jou God om sorgvuldig te hou al sy gebooie wat ek jou vandag beveel, dan sal die HERE jou God jou die hoogste stel bo al die nasies van die aarde. En al hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal as jy luister na die stem van die HERE jou God. Geseënd sal jy wees in die stad, en geseënd sal jy wees in die veld. Geseënd sal wees die vrug van jou liggaam en die vrugte van jou land en die vrug van jou vee, die aanteel van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee. Geseënd sal wees jou mandjie en jou bakskottel. Geseënd sal jy wees by jou ingang, en geseënd sal jy wees by jou uitgang. Die HERE sal maak dat jou vyande wat teen jou opstaan, voor jou verslaan word; op een pad sal hulle teen jou uittrek en op sewe paaie voor jou uit vlug. Die HERE sal die seën oor jou gebied in jou skure en in alles waar jy jou hand aan slaan; en Hy sal jou seën in die land wat die HERE jou God jou sal gee. Die HERE sal jou vir Hom as heilige volk bevestig soos Hy jou dit gesweer het, as jy die gebooie van die HERE jou God hou en in sy weë wandel. En al die volke van die aarde sal sien dat die Naam van die HERE oor jou uitgeroep is, en hulle sal vir jou vrees. En die HERE sal die goeie aan jou oorvloedig gee in die vrug van jou liggaam en in die vrug van jou vee en in die vrugte van jou land, in die land wat die HERE aan jou vaders met 'n eed beloof het om aan jou te gee. Die HERE sal sy goeie skatkamer, die hemel, vir jou oopmaak om die reën van jou land op die regte tyd te gee en om al die werk van jou hand te seën; en jy sal aan baie nasies uitleen, maar self nie hoef te leen nie. En die HERE sal jou die kop en nie die stert maak nie, en jy sal net boontoe en nie ondertoe gaan nie as jy luister na die gebooie van die HERE jou God wat ek jou vandag beveel om te hou en te doen, en jy nie regs of links afwyk van al die woorde wat ek julle vandag beveel, om agter ander gode aan te loop om hulle te dien nie.

Gratis leesplanne en oordenkings oor DEUTERONÓMIUM 28:1-14

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid