DEUTERONOMIUM 28:1-14

DEUTERONOMIUM 28:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“As jy ten volle gehoorsaam is aan die HERE jou God en die opdragte nakom wat ek jou vandag gee, sal die HERE jou God jou bo al die nasies van die wêreld verhoog. “Al hierdie seëninge sal oor jou kom en by jou bly wanneer jy die HERE jou God gehoorsaam: In jou stede en in jou oop velde sal jy geseën wees. Jy sal geseën word met baie kinders en goeie oeste. Jy sal geseën word met vrugbare beeste en kleinvee. Jy sal geseën word met mandjies wat oorloop van vrugte en jou knieskottel sal vol brood wees. Jy sal geseën word waar jy ook al beweeg, of jy nou kom of gaan. “Die HERE sal jou vyande oorwin wanneer hulle jou aanval. Hulle sal jou vanuit een rigting aanval, maar hulle sal in sewe rigtings wegvlug. Die HERE sal jou seën in alles wat jy doen en Hy sal jou graanskure vol maak met graan. Die HERE jou God sal jou seën in die land wat Hy aan jou gee. “As jy die opdragte van die HERE jou God gehoorsaam en doen wat Hy wil hê, sal die HERE jou sy heilige volk maak soos Hy beloof het Hy sal doen. Al die nasies van die wêreld sal sien dat die HERE jou sy volk gemaak het en hulle sal in vrees en bewing voor julle staan. “Die HERE sal ’n oorvloed van goeie dinge vir jou gee in die land wat Hy aan jou voorouers belowe het: baie kinders, talle diere en goeie oeste. Die HERE sal uit sy ryk voorraadskuur, die hemel, dit op die regte tyd laat reën om al die werk wat jy doen, te seën. Jy sal aan baie nasies uitleen, maar jy sal nooit nodig hê om van hulle te leen nie. As jy luister na hierdie opdragte van die HERE jou God wat ek vir jou gee en dit noukeurig nakom, sal die HERE jou die kop maak en nie die stert nie. Jy sal altyd die leiding neem. Moenie links of regs afwyk van enige van hierdie opdragte wat ek jou vandag gee deur ander gode na te volg en hulle te aanbid nie.”

DEUTERONOMIUM 28:1-14 Bybel vir almal (ABA)

Moses het gesê: “As julle waarlik gehoorsaam is aan julle God die Here, as julle alles doen wat sy wette sê wat ek vandag vir julle gee, dan sal julle God die Here vir julle die belangrikste volk op die aarde maak. As julle gehoorsaam is aan julle God die Here, dan sal Hy aanhou om julle te seën: Hy sal julle seën in die stad en in die veld. Hy sal julle vrugbaar maak en ook julle grond en julle diere, daar sal baie kalwers en lammers wees. Julle mandjies en julle brood-skottels sal altyd vol kos wees. Die Here sal julle seën oral waar julle gaan. Hy sal julle vyande laat verloor wanneer hulle vir julle aanval. Hulle sal op een pad kom om julle aan te val, maar hulle sal op sewe paaie wegvlug van julle. Die Here sal julle stoorkamers vol laat word, dit sal goed gaan met alles wat julle doen. Julle God die Here sal julle seën in die land wat Hy vir julle gee. As julle doen wat die Here wil hê en as julle lewe soos Hy sê, dan sal Hy vir julle sy gewyde volk maak, Hy het dit belowe. Al die volke op die aarde sal sien dat julle aan die Here behoort, en hulle sal bang wees vir julle. Die Here sal dit baie goed laat gaan met julle. Julle en julle diere en julle grond sal vrugbaar wees in hierdie land, Hy het vir julle voorvaders belowe om die land vir julle te gee. Die Here sal sy stoorkamer oopmaak waar Hy die goeie dinge bêre, en Hy sal vir julle reën gee op die regte tyd sodat dit goed sal gaan met alles wat julle doen. Julle sal geld en goed kan leen vir mense van baie volke, maar julleself sal nie iets moet leen nie. As julle gehoorsaam is aan die wette van julle God die Here en as julle aanhou om te doen wat ek vandag vir julle sê, dan sal die Here sê julle is die kop, nie die stert nie. Julle sal altyd bo wees, nie onder nie. Maar dan moet julle aanhou om alles te doen wat ek vandag vir julle sê, julle moenie ander gode dien nie.

DEUTERONOMIUM 28:1-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

AS jy dan goed luister na die stem van die HERE jou God om sorgvuldig te hou al sy gebooie wat ek jou vandag beveel, dan sal die HERE jou God jou die hoogste stel bo al die nasies van die aarde. En al hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal as jy luister na die stem van die HERE jou God. Geseënd sal jy wees in die stad, en geseënd sal jy wees in die veld. Geseënd sal wees die vrug van jou liggaam en die vrugte van jou land en die vrug van jou vee, die aanteel van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee. Geseënd sal wees jou mandjie en jou bakskottel. Geseënd sal jy wees by jou ingang, en geseënd sal jy wees by jou uitgang. Die HERE sal maak dat jou vyande wat teen jou opstaan, voor jou verslaan word; op een pad sal hulle teen jou uittrek en op sewe paaie voor jou uit vlug. Die HERE sal die seën oor jou gebied in jou skure en in alles waar jy jou hand aan slaan; en Hy sal jou seën in die land wat die HERE jou God jou sal gee. Die HERE sal jou vir Hom as heilige volk bevestig soos Hy jou dit gesweer het, as jy die gebooie van die HERE jou God hou en in sy weë wandel. En al die volke van die aarde sal sien dat die Naam van die HERE oor jou uitgeroep is, en hulle sal vir jou vrees. En die HERE sal die goeie aan jou oorvloedig gee in die vrug van jou liggaam en in die vrug van jou vee en in die vrugte van jou land, in die land wat die HERE aan jou vaders met 'n eed beloof het om aan jou te gee. Die HERE sal sy goeie skatkamer, die hemel, vir jou oopmaak om die reën van jou land op die regte tyd te gee en om al die werk van jou hand te seën; en jy sal aan baie nasies uitleen, maar self nie hoef te leen nie. En die HERE sal jou die kop en nie die stert maak nie, en jy sal net boontoe en nie ondertoe gaan nie as jy luister na die gebooie van die HERE jou God wat ek jou vandag beveel om te hou en te doen, en jy nie regs of links afwyk van al die woorde wat ek julle vandag beveel, om agter ander gode aan te loop om hulle te dien nie.

DEUTERONOMIUM 28:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

“As jy goed luister na die Here jou God en jy gehoorsaam al sy gebooie wat ek jou vandag gee, en jy lewe daarvolgens, sal die Here jou God jou oor al die nasies van die aarde stel. “As jy luister na die Here jou God, sal al hierdie seëninge oor jou kom en jou lewe verryk. “Jy sal geseën wees in die stad, jy sal geseën wees in die oop veld. “Jou nageslag sal geseën wees, en die opbrengs van jou lande en die aanteel van jou diere, jou kalweroes en jou lammeroes. “Jou oesmandjie en jou knieskottel sal geseën wees. “Jy sal geseën wees waar jy ook gaan. “Die Here sal jou vyande wat jou aanval, vir jou laat vlug. Hulle sal uit een rigting teen jou opruk, maar in talle rigtings voor jou uit vlug. “Die Here sal die seën beveel om oor jou te kom, oor jou graanskure en oor alles wat jy aanpak. Die Here jou God sal jou seën in die land wat Hy aan jou gee. “As jy die gebooie van die Here jou God gehoorsaam en sy wil doen, sal Hy jou in stand hou as sy heilige volk soos Hy met 'n eed aan jou beloof het. “Al die volke op die aarde sal weet dat die Naam van die Here oor jou uitgeroep is, en hulle sal bang wees vir jou. Die Here sal jou oorlaai met die goeie: met 'n nageslag, met die aanteel van jou vee, met die opbrengs van jou grond in die land wat die Here met 'n eed aan jou voorvaders beloof het om aan jou te gee. Die Here sal sy goeie voorraadskuur, die hemel, vir jou oopmaak om vir jou land reën te gee op die regte tyd, om alles wat jy doen, te seën. Dan sal jy aan baie nasies kan leen, maar self sal jy nie hoef te leen nie. “As jy luister na die Here jou God se gebooie wat ek jou vandag gee, as jy hulle gehoorsaam en daarvolgens lewe en nie ander gode aanhang en dien en so afwyk van alles wat ek jou vandag beveel nie, sal die Here jou God jou die kop maak, nie die stert nie, en sal jy altyd bo wees, nie onder nie.

DEUTERONOMIUM 28:1-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“ As jy aandagtig luister na die stem van die HERE jou God deur al sy gebooie wat ek vandag vir jou voorskryf, nougeset na te kom, sal die HERE jou God jou verhoog bo al die nasies van die aarde. Al hierdie seëninge sal jy ontvang, en dit sal jou deel word as jy luister na die stem van die HERE jou God: “Geseënd sal jy wees in die dorp en geseënd sal jy wees in die veld! Geseënd die vrug van jou liggaam, die vrug van jou grond en die vrug van jou diere – die aanteel van jou beeste en die aanwas van jou kleinvee! Geseënd jou mandjie, en jou knieskottel! “Geseënd sal jy wees wanneer jy terugkeer en geseënd sal jy wees wanneer jy uittrek. Die HERE sal jou vyande wat teen jou opstaan, voor jou verslaan. Met een pad sal hulle teen jou uittrek en op sewe paaie sal hulle voor jou uit vlug. “Die HERE sal vir jou seën stuur – in jou graanskure en in alles waaraan jy jou hand waag. Ja, die HERE jou God sal jou seën in die land wat Hy vir jou gaan gee. “Die HERE sal jou vestig as 'n heilige volk vir Hom, soos Hy aan jou met 'n eed beloof het. As jy die gebooie van die HERE jou God nakom en sy paaie volg, sal al die volke van die aarde sien dat die Naam van die HERE oor jou uitgeroep is, en hulle sal ontsag vir jou hê. Op die grond wat die HERE aan jou voorvaders met 'n eed beloof het om aan jou te gee, sal die HERE aan jou ryke oorvloed skenk met die vrug van jou liggaam, die vrug van jou diere en die vrug van jou grond. Die HERE sal vir jou sy goeie skatkamer, die hemel, oopmaak om die reën van jou land op tyd vir jou te gee en al jou handewerk te seën. Jy sal aan baie nasies uitleen, maar jy sal self nie hoef te leen nie. Die HERE sal jou die kop maak, nie die stert nie. Jy sal net na bo beweeg, nie na onder nie, as jy gehoorsaam is aan die gebooie van die HERE jou God wat ek jou vandag opdra om noukeurig na te kom. Van al die gebooie wat ek julle vandag opdra, mag jy nie links of regs afwyk deur agter ander gode aan te loop en hulle te dien nie.

DEUTERONOMIUM 28:1-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En as jy ywerig luister na die stem van die HERE jou God om al sy gebooie te onderhou en te doen wat ek jou vandag beveel, dan sal die HERE jou God jou verhef bo al die nasies van die aarde: En al hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal as jy luister na die stem van die HERE jou God. Geseënd sal jy wees in die stad, en geseënd sal jy wees in die veld. Geseënd sal wees die vrug van jou liggaam en die vrug van jou land en die vrug van jou beeste, die aanteel van jou beeste en die troppe van jou skape. Geseënd is jou mandjie en jou voorraad. Geseënd sal jy wees as jy ingaan, en geseënd sal jy wees as jy uitgaan. Die HERE sal maak dat jou vyande wat teen jou opstaan, voor jou aangesig verslaan word; op een pad sal hulle teen jou uittrek en op sewe paaie voor jou uit vlug. Die HERE sal die seën oor jou gebied in jou skatkamers en in alles waaraan jy jou hand slaan; en hy sal jou seën in die land wat die HERE jou God jou gee. Die HERE sal jou vir Hom 'n heilige volk vestig soos Hy jou met 'n eed beloof het, as jy die gebooie van die HERE jou God bewaar en in sy weë wandel. En al die mense van die aarde sal sien dat die Naam van die HERE oor jou uitgeroep is; en hulle sal vir jou bang wees. En die HERE sal jou oorvloedig maak in goed, in die vrug van jou liggaam en in die vrug van jou vee en in die vrug van jou land, in die land wat die HERE aan jou vaders met 'n eed beloof het om aan jou te gee. Die HERE sal sy goeie skat, die hemel, vir jou oopmaak om op sy tyd vir jou land reën te gee en al die werk van jou hand te seën; en jy sal aan baie nasies leen, maar jy mag nie leen nie. En die HERE sal jou die kop maak en nie die stert nie; en jy sal net bo wees, en jy sal nie onder wees nie; as jy luister na die gebooie van die HERE jou God wat ek jou vandag beveel, om dit te onderhou en te doen; En jy mag van geen van die woorde wat ek jou vandag beveel, regs of links afwyk om agter ander gode aan te loop om hulle te dien nie.

DEUTERONOMIUM 28:1-14 Die Boodskap (DB)

“Jy moet baie goed luister na wat die Here jou God vir jou sê om te doen. As jy alles doen presies nes Hy vir jou sê en jy gehoorsaam is om alles te doen wat Hy jou beveel, sal dit goed gaan met jou. Die Here sal jou belangriker maak as enige ander nasie op aarde. Jy sal baie voorspoedig wees in alles wat jy aanpak. Jy sal ryk word omdat die Here jou ryk maak. Hy sal baie dinge vir jou doen: Hy sal jou voorspoedig maak as jy in die stad bly of op die platteland boer. “Hy sal vir jou baie kinders gee en jou landerye sal elke jaar groot oeste hê. “Jou mandjies waarmee jy die oes insamel, sal elke jaar oorloop van al die vrugte wat die Here vir jou sal gee. Hy sal sorg dat jy meer brood sal hê as wat jy kan eet. “Die Here sal jou voorspoedig maak waar jy ook al gaan. Dit sal heeltyd net goed gaan met jou. “Die Here sal jou vyande doodmaak as hulle besluit om jou aan te val. Hulle sal uit een rigting kom om jou aan te val, maar hulle sal in sewe rigtings weghardloop! “Die Here sal jou voorspoedig maak in alles wat jy doen. Jy sal nie genoeg skure hê om alles op te gaar wat Hy vir jou gaan gee nie. Die Here jou God sal jou voorspoedig maak in die land wat Hy vir jou gee. “As jy alles doen wat die Here jou God jou beveel, sal Hy Israel as sy eie volk eenkant sit. Julle sal net aan Hom behoort en julle sal Hom dien. Hy het mos belowe dat Hy dit sal doen. Al die ander nasies sal erken dat julle die Here se volk is. En hulle sal baie bang wees vir julle. “Die Here sal vir jou baie van al die goeie dinge gee in die land wat Hy vir julle oupagrootjies belowe het om vir julle te gee. Julle sal baie kinders hê en baie skape en beeste, en julle sal elke jaar rekordoeste hê. “Die Here sal vir julle reën gee elke keer as julle dit nodig het. Waar Hy bly, is daar baie skatte. En Hy sal sy skatte vir julle gee. Hy sal julle voorspoedig maak in alles wat julle doen. “Julle sal vir baie nasies leen, maar julle sal nie nodig hê om by enigiemand enigiets te leen nie. “As julle baie mooi luister wat die Here julle God vir julle beveel en julle doen presies wat Hy sê, sal Hy julle die belangrikste op aarde maak. Julle sal oor ander nasies heers. Julle sal altyd die sterkste wees. Wees baie versigtig dat julle niks nalaat wat die Here wil hê julle moet doen nie. Wees veral versigtig om nie voor ander gode neer te buig en hulle te aanbid nie.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid