HANDELINGE 17
AFR53

HANDELINGE 17

17
Paulus in Thessaloníka en Beréa.
1TOE het hulle deur Amfípolis en Apollónië gereis en in Thessaloníka gekom, waar 'n sinagoge van die Jode was.
2En volgens sy gewoonte het Paulus na hulle gegaan en drie sabbatte lank met hulle gespreek uit die Skrifte
3en dit uitgelê en aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dode opstaan, en gesê: Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig, is die Christus.
4En sommige van hulle is oortuig en het hulle by Paulus en Silas aangesluit, ook 'n groot menigte van die godsdienstige Grieke en 'n groot aantal van die aansienlikste vroue.
5Maar die ongelowige Jode was afgunstig en het slegte manne van die leeglopers saamgeneem en die stad in opskudding gebring deur 'n volksoploop te bewerk. En hulle het die huis van Jason aangeval en probeer om hulle voor die volk te bring.
6Maar toe hulle hul nie kry nie, het hulle Jason en 'n paar broeders na die stadsowerhede gesleep en geskreeu: Die mense wat die wêreld in opstand bring, hulle het hier ook gekom,
7en Jason het hulle ontvang. En hulle almal handel teen die bevele van die keiser en sê dat daar 'n ander koning is, naamlik Jesus.
8En hulle het die skare in opskudding gebring en ook die stadsowerhede wat dit gehoor het.
9Maar toe hulle van Jason en die ander genoegsame waarborg ontvang het, het hulle hul losgelaat.
10Daarop het die broeders dadelik in die nag Paulus en Silas na Beréa weggestuur. En toe hulle daar kom, het hulle na die sinagoge van die Jode gegaan.
11En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.
12Baie van hulle het dan ook gelowig geword, en van die aansienlike Grieke 'n groot aantal, vroue en manne.
13Maar toe die Jode van Thessaloníka verneem het dat die woord van God ook in Beréa deur Paulus verkondig was, het hulle gekom en die skare ook daar opgesweep.
14Die broeders het Paulus toe dadelik weggestuur om in die rigting van die see te gaan, maar Silas en Timótheüs het daar gebly.
Paulus in Athéne. Sy rede op die Areópagus.
15EN die wat Paulus begelei het, het hom tot by Athéne gebring, en nadat hulle opdrag ontvang het aan Silas en Timótheüs om so gou moontlik na hom te kom, het hulle vertrek.
16En terwyl Paulus in Athéne vir hulle wag, het sy gees in hom opstandig geword toe hy sien dat die stad vol afgodsbeelde was.
17Hy het toe in die sinagoge met die Jode gespreek en met die godsdienstige mense, en elke dag op die mark met die wat hom teëkom.
18En sommige van die Epikuréïese en die Stoïsynse wysgere het met hom gestry, en sommige het gesê: Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil sê? Ander weer: Dit lyk of hy 'n verkondiger is van vreemde gode — omdat hy aan hulle die evangelie van Jesus en die opstanding verkondig het.
19En hulle het hom geneem en op die Areópagus gebring en gesê: Kan ons verneem wat hierdie nuwe leer is wat deur u verkondig word?
20Want u bring sekere vreemde dinge in ons ore. Ons wil dan weet wat dit tog kan wees.
21Nou het al die Atheners en die uitlanders wat by hulle gewoon het, vir niks anders tyd gehad as om iets nuuts te sê en te hoor nie.
22Paulus gaan toe in die middel van die Areópagus staan en sê: Atheners, ek sien dat julle in elke opsig baie godsdienstig is.
23Want terwyl ek rondgegaan en julle heiligdomme aanskou het, het ek ook 'n altaar gevind waarop geskrywe is: Aan 'n onbekende God. Hom dan wat julle vereer sonder om Hom te ken, verkondig ek aan julle.
24 Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie.
25Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee.
26En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het,
27sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie;
28want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook sy geslag.
29As ons dan die geslag van God is, moet ons nie dink dat die godheid aan goud of silwer of steen, die beeldwerk van menslike kuns en uitvinding, gelyk is nie.
30God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer,
31omdat Hy 'n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur 'n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.
32Maar toe hulle van die opstanding van die dode hoor, het sommige begin spot, en ander het gesê: Ons sal u weer hieromtrent hoor.
33En so het Paulus van hulle weggegaan.
34Maar sommige manne het by hom aangesluit en gelowig geword, onder wie ook Dionísius, die Areopagiet, was, en 'n vrou met die naam van Dámaris en ander saam met hulle.

© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 1933, 1953. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.


Vind meer uit oorAfrikaans 1933/1953

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid.