II TIMÓTHEÜS 1

1
Opskrif en seëngroet.
1PAULUS, 'n apostel van Jesus Christus deur die wil van God, ooreenkomstig die belofte van die lewe wat in Christus Jesus is,
2aan Timótheüs, my geliefde kind: Genade, barmhartigheid, vrede van God die Vader en Christus Jesus, onse Here!
Liefde van Paulus vir Timótheüs. Vermaning om standvastig te wees in die geloof en in die bediening.
3EK dank God, wat ek van my voorouers af in 'n rein gewete dien, wanneer ek onophoudelik nag en dag aan jou in my gebede dink,
4 terwyl ek verlang om jou te sien as ek aan jou trane dink, sodat ek met blydskap vervul kan word,
5en as ek my herinner die ongeveinsde geloof wat in jou is, wat eers gewoon het in jou grootmoeder Loïs en in jou moeder Eunice, en wat — daarvan is ek oortuig — ook in jou is.
6Om hierdie rede herinner ek jou daaraan om die genadegawe van God aan te wakker wat in jou is deur die oplegging van my hande.
7Want God het ons nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.
8 Skaam jou dan nie oor die getuienis van onse Here of oor my, sy gevangene nie, maar ly saam verdrukkinge vir die evangelie na die krag van God
9wat ons gered en geroep het met 'n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is,
10maar wat nou geopenbaar is deur die verskyning van ons Verlosser, Jesus Christus, wat die dood tot niet gemaak het en die lewe en die onverderflikheid aan die lig gebring het deur die evangelie,
11 waarvoor ek aangestel is as prediker en apostel en leraar van die heidene.
12 Om hierdie rede ly ek ook hierdie dinge; maar ek skaam my nie, want ek weet in wie ek geglo het, en ek is oortuig dat Hy mag het om my pand te bewaar tot dié dag toe.
13 Hou as voorbeeld van gesonde woorde dié wat jy van my gehoor het, in die geloof en liefde wat in Christus Jesus is.
14Bewaar jou goeie pand deur die Heilige Gees wat in ons woon.
15Jy weet dit dat almal wat in Asië is, hulle van my afgekeer het, onder wie Figéllus en Hermógenes is.
16Mag die Here aan die huis van Onesíforus barmhartigheid bewys, want hy het my dikwels verkwik en hom oor my kettings nie geskaam nie;
17maar toe hy in Rome gekom het, het hy my baie ywerig gesoek en gevind.
18Mag die Here hom skenk dat hy barmhartigheid mag verkry van die Here in dié dag! En jy weet baie goed hoeveel dienste hy in Éfese bewys het.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid