II KORINTHIËRS 9

9
1WANT wat die diensbetoning aan die heiliges betref, is dit vir my oorbodig om aan julle te skrywe.
2Want ek ken julle bereidwilligheid waarop ek oor julle by die Macedóniërs roem, dat Acháje 'n jaar gelede gereed was, en dat die ywer wat van julle uitgegaan het, baie ander aangespoor het.
3Maar ek het die broeders gestuur, sodat ons roem oor julle in hierdie geval nie verydel mag word nie, dat, soos ek gesê het, julle gereed kan wees,
4sodat nie miskien, as daar Macedóniërs saam met my kom en julle nie gereed vind nie, ons, om nie te sê julle nie, beskaam word in hierdie vertroue van ons roem nie.
5Ek het dit dus noodsaaklik geag om die broeders te versoek om vooruit te gaan na julle toe en julle vroeër aangekondigde dankoffer vooraf in orde te bring, sodat dit gereed kan wees as 'n dankoffer en nie as iets wat afgepers is nie.
6Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai.
7 Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het 'n blymoedige gewer lief.
8En God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk.
9Soos geskrywe is: Hy het uitgestrooi, hy het aan die armes gegee, sy geregtigheid bly tot in ewigheid.
10En mag Hy wat saad verskaf aan die saaier, ook brood verskaf om te eet en julle saad vermeerder en die vrug van julle geregtigheid laat toeneem,
11sodat julle in alles ryk kan word tot alle milddadigheid, wat danksegging aan God deur ons bewerk.
12Want die bediening van hierdie hulpbetoning voorsien nie alleen in die behoeftes van die heiliges nie, maar is ook oorvloedig deur baie danksegginge aan God,
13omdat hulle deur die bewys van hierdie diens God verheerlik oor die onderwerping van julle belydenis aan die evangelie van Christus en oor die milddadigheid van die bydrae aan hulle en aan almal,
14terwyl hulle ook in die gebed vir julle na julle verlang vanweë die uitnemende genade van God aan julle.
15Maar God sy dank vir sy onuitspreeklike gawe.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid