I SAMUEL 5

5
Die ark in Filistéa.
1EN die Filistyne het die ark van God geneem en dit van Ebenhaéser af na Asdod gebring.
2Daarop het die Filistyne die ark van God geneem en dit in die huis van Dagon gebring en dit langs Dagon neergesit.
3Toe die Asdodiete vroeg die volgende môre daarheen gaan, sien hulle Dagon lê met sy gesig op die grond voor die ark van die Here. En hulle het Dagon geneem en hom weer op sy plek gesit.
4Maar toe hulle die volgende môre vroeg opstaan, sien hulle Dagon lê met sy gesig op die grond voor die ark van die Here; maar die hoof van Dagon en sy twee handpalms lê afgebreek op die drumpel: net Dagon se lyf het aan hom oorgebly.
5Daarom trap die priesters van Dagon en almal wat in die huis van Dagon ingaan, tot vandag toe nie op die drumpel van Dagon in Asdod nie.
6Maar die hand van die Here was swaar op die Asdodiete, en Hy het hulle verskrik en hulle getref met geswelle, Asdod en sy grondgebied.
7Toe die manne van Asdod sien dat dit so gaan, sê hulle: Die ark van die God van Israel mag nie by ons bly nie, want sy hand druk swaar op ons en op ons god Dagon.
8Daarom het hulle al die vorste van die Filistyne by hulle byeen laat kom en gevra: Wat moet ons met die ark van die God van Israel doen? En dié het gesê: Laat die ark van die God van Israel oorgaan na Gat toe. Daarop het hulle die ark van die God van Israel oorgebring.
9En nadat hulle dit oorgebring het, was die hand van die Here teen die stad met 'n baie groot verwarring, en Hy het die mense van die stad getref, van die kleinste tot die grootste, sodat geswelle aan hulle uitgebreek het.
10Daarop stuur hulle die ark van God na Ekron. Maar toe die ark van God in Ekron kom, het die Ekroniete geskreeu en gesê: Hulle het die ark van die God van Israel na my toe oorgebring om my en my volk dood te maak.
11Daarom het hulle al die vorste van die Filistyne byeen laat kom en gesê: Stuur die ark van die God van Israel weg, dat dit na sy plek kan teruggaan en my en my volk nie doodmaak nie. Want daar het 'n dodelike verwarring in die hele stad gekom: die hand van God was daar baie swaar.
12En die mense wat nie gesterf het nie, is met geswelle getref, sodat die hulpgeroep van die stad na die hemel opgeklim het.

Tans Gekies:

I SAMUEL 5: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid