I SAMUEL 23

23
Dawid verlos Kehíla. Saul sit hom agterna, en hy vernuwe sy verbond met Jónatan.
1INTUSSEN is aan Dawid meegedeel en gesê: Kyk, die Filistyne veg teen Kehíla, en hulle plunder die dorsvloere.
2Toe raadpleeg Dawid die Here en vra: Sal ek gaan en daardie Filistyne verslaan? En die Here sê vir Dawid: Gaan en verslaan die Filistyne en verlos Kehíla.
3Maar die manne van Dawid sê vir hom: Kyk, hier in Juda is ons al bevrees, hoeveel te meer dan as ons na Kehíla trek teen die slagordes van die Filistyne?
4Toe raadpleeg Dawid die Here nog weer, en die Here het hom geantwoord en gesê: Maak klaar, trek af na Kehíla, want Ek gee die Filistyne in jou hand.
5Daarom het Dawid met sy manne na Kehíla getrek en teen die Filistyne geveg en hulle vee weggedrywe en 'n groot slag onder hulle geslaan. So het Dawid dan die inwoners van Kehíla verlos.
6(By die vlug van Ábjatar, die seun van Ahiméleg, na Dawid, het hy na Kehíla afgekom met die skouerkleed by hom.)
7Daarop kry Saul berig dat Dawid in Kehíla gekom het, en Saul sê: God het hom in my hand oorgelewer, want hy het homself opgesluit deurdat hy in 'n stad met poorte en grendels ingegaan het.
8Daarom het Saul al die manskappe vir die geveg opgeroep om af te trek na Kehíla ten einde Dawid en sy manne in te sluit.
9Toe Dawid gewaar dat Saul onheil teen hom beraam, sê hy aan die priester Ábjatar: Bring die skouerkleed nader.
10En Dawid sê: Here, God van Israel, u kneg het verseker gehoor dat Saul na Kehíla wil trek om die stad om my ontwil te verwoes.
11Sal die burgers van Kehíla my in sy hand uitlewer? Sal Saul afkom soos u kneg verneem het? Here, God van Israel, gee u kneg dit tog te kenne! Toe antwoord die Here: Hy sal afkom.
12Daarop sê Dawid: Sal die burgers van Kehíla my en my manne in die hand van Saul uitlewer? En die Here antwoord: Hulle sal uitlewer.
13En Dawid het klaargemaak met sy manne, omtrent seshonderd man — hulle het uit Kehíla uitgetrek en rondgetrek waar hulle maar kon. Toe Saul berig ontvang dat Dawid uit Kehíla ontsnap het, het hy opgehou om uit te trek.
14En Dawid het gebly in die woestyn, in die bergvestings, ook op die gebergte in die woestyn Sif; en Saul het hom aldae gesoek, maar God het hom nie in sy hand oorgegee nie.
15Maar Dawid het bemerk dat Saul uittrek om sy lewe te soek. Dawid was naamlik in die woestyn Sif, in Hores.
16Daarop het Jónatan, die seun van Saul, hom klaargemaak en na Dawid in Hores gegaan. En hy het hom bemoedig in God
17en vir hom gesê: Vrees nie, want die hand van Saul, my vader, sal jou nie vind nie, maar jy sal koning word oor Israel, en ek sal die tweede onder jou wees; en my vader Saul weet dit ook goed.
18Toe sluit hulle twee 'n verbond voor die aangesig van die Here; en Dawid het in Hores gebly, maar Jónatan het na sy huis gegaan.
19Daarna het daar Sifiete opgegaan na Saul, na Gíbea, en gesê: Steek Dawid hom nie weg by ons in die bergvestings, in Hores, op die heuwel Hagíla wat suid van die wildernis lê nie?
20En is dit nou na u hartelus om af te kom, o koning, kom dan af, en ons sal sorg om hom in die hand van die koning uit te lewer.
21En Saul sê: Mag julle geseënd wees deur die Here, omdat julle medelyde met my gehad het.
22Gaan tog heen, maak verder klaar en ondersoek en bekyk die plek waar sy spoor is, wie hom daar gesien het; want aan my is gesê dat hy baie listig is.
23Daarom, bekyk en ondersoek al die skuilplekke waar hy hom wegsteek, en kom verseker na my terug, dan sal ek met julle saamgaan; en as hy in die land is, sal ek hom opspoor onder al die geslagte van Juda.
24En hulle het klaargemaak en voor Saul uit na Sif gegaan, terwyl Dawid en sy manne in die woestyn Maon was, in die Vlakte suid van die wildernis.
25Toe Saul met sy manne trek om hom te soek, is dit aan Dawid geboodskap; daarom het hy afgetrek na die rots en in die woestyn Maon gebly. Maar Saul het dit gehoor en Dawid agternagejaag, die woestyn Maon in.
26En Saul het aan hierdie kant van die berg getrek, maar Dawid met sy manne was aan die ander kant van die berg. En toe Dawid in angs vlug om van Saul weg te kom, terwyl Saul en sy manne Dawid en sy manne omsingel om hulle te vang,
27kom daar 'n boodskapper by Saul en sê: Maak gou en kom, want die Filistyne het 'n inval in die land gedoen.
28Daarop het Saul omgedraai en Dawid nie meer agternagejaag nie, maar die Filistyne tegemoetgetrek. Daarom noem hulle daardie plek Rots van Skeiding.

Tans Gekies:

I SAMUEL 23: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid