Filippense 1
1
1Sha’ul en Timotheos, slawe van Yeshua, Die Gesalfde Een, aan al die afgesonderdes wat in Die Gesalfde Een, Yeshua, in Filippoi is, saam met die oudstes en dié wat bedien:
2onverdiende guns vir julle en vrede, vreugde, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid vanaf God, ons Vader en vanaf ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een!
3Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink.
4Ek bid in al my gebede, oor julle almal terwyl ek met blydskap intree
5vir julle vennootskap met die goeie boodskap van die eerste dag af tot nou toe
6omdat ek vertrou aangaande dit, dat Hy wat ’n goeie werk in julle begin het, dit sal vervolmaak tot op die dag van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een.
7Dit is vir my reg om so van julle almal te dink omdat ek julle in my gedagtes, wil en emosie hou, aangesien julle almal in my boeie, sowel as in die verdediging en bevestiging van die goeie boodskap, my deelgenote in die onverdiende guns is,
8want God is my getuie hoe lief ek vir julle is met die omgee van Yeshua, Die Gesalfde Een.
9Dit bid ek: dat julle liefde mag vermeerder en dat julle meer oorvloedig mag word in kennis en in alle Geestelike insig,
10om die dinge te kan onderskei wat paslik is en julle rein, sonder aanklag, mag wees op die dag van Die Gesalfde Een,
11volgemaak met die vrugte van onpartydige opregtheid wat daar is in Yeshua, Die Gesalfde Een, tot eer, lof en aanbidding van God.
12Ek wil hê dat julle moet weet, my broers, dat my omstandighede al hoe meer tot voordeel van die goeie boodskap gebeur het,
13deurdat my ‘boeie in Die Gesalfde Een’ bekend geword het by die hele paleis en by al die ander.
14’n Menigte van die broers wat in ons Meester is, het deur my boeie vrymoedige vertroue gekry en al hoe meer gewaag om die boodskap van God sonder vrees te verkondig.
15Sommige verkondig Die Gesalfde Een wel ook uit jaloesie en tweespalt, maar sommige in goedgesindheid en in liefde,
16want hulle weet dat ek aangestel is om uit te gaan in verdediging van die goeie boodskap,
17maar dié wat uit tweespalt Die Gesalfde Een verkondig, is nie opreg nie, maar hoop om lyding by my gevangenskap by te voeg.
18Hierin het ek my verheug en verheug ek my, dat in elke geval: of dit uit voorgee, of uit waarheid is, Die Gesalfde Een verkondig word,
19want ek weet dat hierdie dinge vir my tot lewe gevind sal word deur julle gebed en deur die geskenk van die Gees van Yeshua, Die Gesalfde Een, Iyov 13:16
20net soos ek ’n versekerde verwagting en afwagting het om in niks beskaam te word nie, maar dat Die Gesalfde Een, soos altyd, so ook nou, met vrymoedige openheid groot gemaak sal word in my liggaam, of dit deur die lewe of deur die dood is,
21want my lewe ís Die Gesalfde Een en as ek sterf is dit tot my voordeel.
22As daar ook op my werk in dié lewe van die vlees vrug is, weet ek nie wat ek sal kies nie,
23want ek word van weerskante gedring: om weg te gaan, want ek het ’n begeerte om by Die Gesalfde Een te wees, want dit is baie voordeliger vir my,
24maar ek word ook gedring om in my liggaam te bly, ter wille van julle
25en dit weet ek verseker, dat ek sal bly en by julle almal sal wees, vir julle blydskap en vir julle groei in vertroue.
26Wanneer ek weer na julle toe kom, sal ek julle roem, in Die Gesalfde Een, Yeshua alleen, oorvloedig kan maak.
27Wees gelei soos dit die goeie boodskap van Die Gesalfde Een pas sodat, of ek kom en julle sien en of ek afwesig is en van julle omstandighede hoor, dat julle in een gees en in een denke, wil en emosie staan en julle algemeen bekend is as één in die vertroue van die goeie boodskap
28en julle in niks rondgeskud sal word deur hulle wat ons teëstaan nie; as ’n demonstrasie van hulle vernietiging, maar van júlle lewe.
29Dit word vanaf God vir julle gegee sodat julle deur vertroue nie net in Hom, Die Gesalfde Een, vertrou nie, maar ook vir Hom sal ly
30en julle dieselfde stryd sal deurmaak as wat julle in my gesien het en nou van my hoor.
Tans Gekies:
Filippense 1: SPC
Kleurmerk
Kopieer
Vergelyk
Deel
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
©Kopiereg 2025 deur Die Pad van Waarheid tot die Lewe Vertalings Projek.
Kopiereg op die inhoud behoort aan die Lewende, Skepper-God, YHWH, alleen. U is welkom om dit onveranderd te gebruik in enige leer of skrywe, met erkenning: “PWL” “PadWLewe” of “Die Pad van Waarheid tot die Lewe” vertaling.
Geen deel hiervan mag onder enige omstandighede, in enige formaat, verkoop word nie.
Sy Boodskap is gratis.