Efesiërs 1
1
1Sha’ul, ’n afgevaardigde van Yeshua, Die Gesalfde Een, deur die wil van God, aan hulle wat in Efesos is; afgesonder en getrou in Yeshua, Die Gesalfde Een:
2vrede, vreugde, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid vir julle en onverdiende guns vanaf God, ons Vader en vanaf ons Meester Yeshua, Die Gesalfde Een!
3Geseënd is God, die Vader van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een, wat ons geseën het met al die seëninge van die Gees in die hemel, in eenheid met Die Gesalfde Een
4net soos Hy ons vroeër, in eenheid met Hom, gekies het van voor die ontstaan van die wêreld af, om afgesonderd en sonder vlek in Sy Teenwoordigheid te wees en ons vroeër in liefde vir Homself aangestel
5en ons as kinders gevestig het deur Yeshua, Die Gesalfde Een, want dit stel Sy wil tevrede
6sodat die eer en lof van Sy onverdiende guns geprys kan word, wat oorvloei op ons deur die Een wat Hy lief het,
7want in Hom is daar vir ons vryspraak en deur Sy bloed die vergifnis van sondes volgens die rykdom van Sy onverdiende guns,
8wat oorvloedig in ons is in alle wysheid en begrip vanaf die Gees.
9Hy het ook aan ons die geheime van Sy wil geleer, dit wat Hy vroeër besluit het om in Homself te doen
10vir die uitvoering van die einde van tye; alle dinge word in die hemel en op die aarde deur Die Gesalfde Een van voor af nuut gemaak.
11In eenheid met Hom is ons gekies volgens die inskrywing van ouds en volgens Sy wil, waardeur Hy alles doen volgens die gedagte van Sy wil
12sodat ons, wat eerste ’n versekerde verwagting in Die Gesalfde Een gehad het, kan wees tot eer en lof van Sy Gemanifesteerde Teenwoordigheid.
13Julle het ook die boodskap van die waarheid, die goeie boodskap van julle redding, in Hom in Wie julle vertrou het gehoor en is julle geseël in die Gees wat Afgesonderd is, wat belowe is,
14wat die waarborg is van ons erfenis, tot die losprys van hulle wat gered is en vir die eer en lof van Sy Gemanifesteerde Teenwoordigheid.
15Om hierdie rede, let op, vandat ek gehoor het van julle vertroue wat in ons Meester Yeshua is en julle liefde tot al die afgesonderdes,
16hou ek nie op om dankie te sê vir julle en om julle te onthou in my gebede nie
17sodat die God van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een, die Vader van eer, lof en aanbidding, aan julle die Gees van wysheid en openbaring mag gee saam met geestelike kennis van Hom
18en dat die oë van julle verstand, wil en emosie verhelder sal word sodat julle kan weet wat die versekerde verwagting van Sy roeping en wat die rykdom van Sy erfdeel van eer en lof is onder die afgesonderdes
19en wat die oorvloedige grootheid van Sy wonderwerkende krag is, in ons wat vertrou, volgens die effektiewe vermoë van Sy krag
20wat Hy gewerk het in Die Gesalfde Een toe Hy Hom uit die dood uit opgewek het en Hom laat sit het aan Sy regterhand in die hemel, Ps 110:1; Mar 9:1; Kol 1:13
21ver bo alle heersers, outoriteite, wonderwerkende kragte, meesters en elke karakter en outoriteit (naam) wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in dié een wat kom. Open 21:1
22Hy het alles onder Sy voete geplaas Ps 8:7 en Hom wat hoër as alles is as Hoof oor die gemeente,
23wat Sy liggaam is, aangestel; die volledigheid van Hom wat alles in almal volledig maak; 1 Kor 15:23-28
Tans Gekies:
Efesiërs 1: SPC
Kleurmerk
Kopieer
Vergelyk
Deel
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
©Kopiereg 2025 deur Die Pad van Waarheid tot die Lewe Vertalings Projek.
Kopiereg op die inhoud behoort aan die Lewende, Skepper-God, YHWH, alleen. U is welkom om dit onveranderd te gebruik in enige leer of skrywe, met erkenning: “PWL” “PadWLewe” of “Die Pad van Waarheid tot die Lewe” vertaling.
Geen deel hiervan mag onder enige omstandighede, in enige formaat, verkoop word nie.
Sy Boodskap is gratis.