Negemyah 8
8
1Toe het die hele volk soos een man in die strate voor die Waterpoort bymekaargekom en vir `Ezra, die skrifgeleerde, gesê om die boek van die wet van Mosheh, wat יהוה vir Yisra’el beveel het, te bring.
2`Ezra, die priester, het die boek van die wet voor die vergadering van manne, sowel as vroue en almal wat met begrip kon luister, gebring op die eerste dag van die sewende maand (Tishri).
3Hy het die boek gelees in die straat wat voor die Waterpoort was, vanaf die oggend tot die middag, in die teenwoordigheid van die manne en die vroue en die wat kon verstaan en die ore van die volk was op die wetboek gerig.
4`Ezra, die skrifgeleerde, het op ’n houtplatform gestaan wat hulle gemaak het vir hom om vanaf te praat. Langs hom het Mattityah, Shema, `Anayah, Uriyah, Hilkiyah en Ma’aseiyah aan sy regterhand gestaan en aan sy linkerhand was P’dayah, Misha’el, Malkiyah, Hashum, Hashbaddanah, Z’kharyah en Meshullam.
5`Ezra het die boek van die wet oopgemaak voor die oë van die hele volk, want hy het bokant die hele volk gestaan en toe hy dit oopmaak, het die hele volk opgestaan.
6`Ezra het יהוה, die groot God, geseën en die hele volk het geantwoord: “Dit is waar, dit is waar” en hulle hande opgelig. Hulle het neergebuig en יהוה aanbid met hul gesigte op die grond.
7Yeshua, Bani, Sherevyah, Yamin, `Akkuv, Shabtai, Hodiyah, Ma’aseiyah, K’lita, `Azaryah, Yozavad, Hanan, P’layah en die Leviete het ook die volk bedien en die wet verduidelik en die volk het op hulle plek bly staan.
8Hulle het duidelik uit die boek van die wet van God gelees en die betekenis gegee sodat hulle verstaan het wat gelees is.
9Negemyah, die goewerneur, `Ezra, die priester en skrifgeleerde en die Leviete wat die volk bedien het, het vir die hele volk gesê: “Hierdie dag is afgesonderd vir יהוה julle God; moenie treur of huil nie,” want die hele volk het gehuil toe hulle die woorde van die wet hoor.
10Toe sê hy vir hulle: “Gaan, eet en drink en stuur porsies aan hulle vir wie niks voorberei is nie, want hierdie dag is afgesonderd vir יהוה. Moenie treurig wees nie, want hierdie is ’n dag van die blydskap van יהוה, Hy is julle Sterkte.” Hav 3:19; 2 Kor 3:5; 13:4
11Die Leviete het die hele volk tot bedaring gebring en gesê: “Wees stil en moenie huil nie, want hierdie dag is afgesonderd.”
12Toe het die hele volk weggegaan om te eet en te drink en porsies te stuur en groot vreugde te hê, want hulle het die boodskappe verstaan wat vir hulle gebring is.
13Op die tweede dag het die hoofde van die vaders van die hele volk, die priesters en die Leviete by `Ezra, die skrifgeleerde, bymekaargekom om van hom die woorde van die wet te verstaan
14en hulle het in die wet wat יהוה deur Mosheh beveel het, geskryf gevind dat die seuns van Yisra’el op die fees in die sewende maand (Tishri) in hutte moet bly
15en dat hulle alles moes hoor, luister en doen wat Mosheh in die boek van die wet geskryf het. Die boodskappers het in al die stede en in Yerushalayim verkondig en gesê: “Gaan op in die berge en bring olyftakke, okkerneuthouttakke, palmtakke, takke van sitroenbome en wilgertakke en maak hutte soos geskrywe is in die boek van die wet van Mosheh. Lev 23:40
16Die volk het gegaan en dit gebring en vir hulle hutte gemaak, elkeen op sy dak en op hulle erwe en op die grond van die huis van God en op die plein van die Waterpoort en op die straat van die Efraimspoort.
17Al die mense wat uit die gevangenskap teruggekom het, het hutte gemaak en in die hutte gebly, want vanaf die dae van Y’hoshua, die seun van Nun, tot op daardie dag het die seuns van Yisra’el dit nie gedoen nie en daar was baie groot blydskap.
18Hulle het ook dag vir dag, van die eerste dag af tot die laaste dag toe, gelees uit die boek van die wet van יהוה en hulle het sewe dae lank fees gehou en op die agtste dag was ’n ernstige byeenkoms, volgens wat geskryf is.
Tans Gekies:
Negemyah 8: PWL
Kleurmerk
Kopieer
Vergelyk
Deel
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
©Kopiereg 2025 deur Die Pad van Waarheid tot die Lewe Vertalings Projek.
Kopiereg op die inhoud behoort aan die Lewende, Skepper-God, YHWH, alleen. U is welkom om dit onveranderd te gebruik in enige leer of skrywe, met erkenning: “PWL” “PadWLewe” of “Die Pad van Waarheid tot die Lewe” vertaling.
Geen deel hiervan mag onder enige omstandighede, in enige formaat, verkoop word nie.
Sy Boodskap is gratis.