1 Kronieke 21
21
1Toe het die teëstander teen Yisra’el opgestaan en Dawid aangehits om Yisra’el te tel.
2Dawid het aan Yo’av, die seun van Tz’ruyah en die prinse van die volk gesê: “Gaan tel die mense van Yisra’el vanaf Be’er-Sh’va tot by Dan en kom terug na my dat ek die getal kan weet.” 2 Sh’m 24:1
3Yo’av het vir koning Dawid gesê: “Mag יהוה Sy volk ’n honderd maal meer maak as wat hulle is en laat die oë van my meester, die koning, dit sien, want hulle is almal u diensknegte. Waarom verlang ons meester, die koning, hierdie ding?
4Die woord van die koning het nogtans onveranderlik bly staan teenoor Yo’av, waarop Yo’av gegaan het deur die hele Yisra’el en teruggekom het na Yerushalayim.
5Yo’av het die totaal van die aantal mense aan Dawid gegee en die totale seuns van Yisra’el was een miljoen, een honderd duisend voetsoldate wat die swaard uittrek en die stam van Y’hudah was vier honderd en sewentig duisend man wat die swaard uittrek.
6Levi, die priesters en Binyamin het hy nie onder hulle getel nie, want die woord van die koning was vir Yo’av ’n gruwel en hy was onwillig om hulle te tel.
7Hierdie saak was verkeerd in die oë van God omdat Dawid Yisra’el getel het.
8Toe sê Dawid vir יהוה: “Ek het groot gesondig deurdat ek hierdie ding gedoen het, maar neem nou die skuld van u kneg weg, want ek het baie dwaas gedoen.”
9Dawid het vroeg opgestaan in die oggend en die woord van יהוה het tot Gad, die profeet gekom en gesê:
10“Gaan en praat met Dawid en sê: ‘So sê יהוה: Drie rampe bied Ek vir jou aan; kies vir jou een dat Ek dit aan jou kan doen.’”
11Toe kom Gad by Dawid en sê vir hom: “So sê יהוה: ‘Kies vir jouself:
12óf drie jaar lank hongersnood in die land, óf drie maande waarin jou vyande jou sal oorwin, jou agtervolg en oor jou heers, óf drie dae lank die swaard van יהוה in Yisra’el.’ Oorweeg nou watter antwoord jy aan Hom sal gee wat my na jou toe gestuur het.”
13Daarop sê Dawid vir Gad: “Ek is in groot benoudheid; laat my in die hand van יהוה val, want Sy liefdevolle omgee is baie groot, maar laat my nie in die hande van mense oorgegee word nie.”
14יהוה het ’n pes oor Yisra’el gestuur en sewentig duisend man van Yisra’el is dood.
15יהוה het ’n boodskapper na Yerushalayim gestuur om dit te vernietig en terwyl hy dit vernietig, het יהוה dit gesien en dit oorweeg en die ramp afgeweer en aan die boodskapper wat vernietig het, gesê: “Jy het baie vernietig, trek nou jou hand terug!” Die boodskapper van יהוה het by die dorsvloer van Aravnah, die Y’vusiet, gestaan.
16Dawid het sy oë opgeslaan en die boodskapper van יהוה tussen die aarde en die hemel sien staan met sy ontblote swaard in sy hand oor Yerushalayim uitgestrek. Toe het Dawid en die oudstes, wat by hom was, met rouklere bedek, op hulle gesigte neergeval.
17Dawid sê vir God: “Is dit nie ék wat beveel het om die volk te tel nie? Ja, dit is ek wat gesondig en baie verkeerd gedoen het, maar hierdie onskuldige skape, wat het hulle gedoen? יהוה, my God, laat U hand teen my en my vader se huis wees, maar laat die plaag ophou teen U volk.”
18Toe sê die boodskapper van יהוה vir Gad, die profeet: “Gaan sê vir Dawid dat hy moet opgaan en vir יהוה ’n altaar bou op die dorsvloer van Aravnah, die Y’vusiet.”
19Dawid het opgegaan volgens die woord van Gad wat hy in die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה gebring het.
20Dawid het gesien dat die boodskapper wat die mense vernietig het, sy hand terughou en nie meer vernietig het nie.
21Toe Dawid by Aravnah kom, het Aravnah omgedraai en Dawid gesien en hy het van die dorsvloer af uitgegaan en hom voor Dawid, met sy gesig na die grond, gebuig.
22Toe sê Dawid vir Aravnah: “Gee vir my die plek van die dorsvloer sodat ek daarop vir יהוה ’n altaar kan bou; jy sal dit aan my gee vir ’n goeie prys sodat die plaag oor die volk kan ophou.”
23Aravnah sê vir Dawid: “Vat dit vir u en laat my meester, die koning, doen wat goed is in sy oë en ek sal ook vir u die beeste as brandoffers gee, die dorssleë as hout en die koring as ’n graanoffer; ek sal alles gee wat nodig is.”
24Koning Dawid het vir Aravnah gesê: “Nooit nie, maar ek sal dit verseker koop vir die volle prys, want ek wil nie wat aan jou behoort, vir יהוה as offer aanbied sonder koste, nie.”
25Dawid het die plek van Aravnah vir vyftig sikkels goud gekoop.
26Dawid het daar vir יהוה ’n altaar gebou en brandoffers en vredesoffers van lammers gebring en gebid tot יהוה en Hy het hom met vuur uit die hemel geantwoord en die brandoffer, wat op die altaar was, verteer.
27יהוה het die boodskapper beveel en hy het sy swaard in die skede terug gesteek.
28In dié tyd, toe Dawid sien dat יהוה hom geantwoord het op die dorsvloer van Aravnah, die Y’vusiet, het hy baie offers daar geoffer,
29want hy het die Tabernakel van יהוה, wat Mosheh in die woestyn gemaak het, daar opgeslaan. 2 Kro 3:1
30In daardie tyd was Dawid baie bang en kon hy nie in die Teenwoordigheid van יהוה bid nie, want hy was bang weens die swaard van die boodskapper van יהוה.
Tans Gekies:
1 Kronieke 21: PWL
Kleurmerk
Kopieer
Vergelyk
Deel
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
©Kopiereg 2025 deur Die Pad van Waarheid tot die Lewe Vertalings Projek.
Kopiereg op die inhoud behoort aan die Lewende, Skepper-God, YHWH, alleen. U is welkom om dit onveranderd te gebruik in enige leer of skrywe, met erkenning: “PWL” “PadWLewe” of “Die Pad van Waarheid tot die Lewe” vertaling.
Geen deel hiervan mag onder enige omstandighede, in enige formaat, verkoop word nie.
Sy Boodskap is gratis.