Romeine 11:11-36

Romeine 11:11-36 AFR20

Ek vra verder: “Hulle het tog seker nie gestruikel, net sodat hulle tot 'n val sou kom nie?” Hoegenaamd nie! Inteendeel, deur hulle val het die verlossing na die nie-Jode gekom om hulle jaloers te maak. As hulle val 'n verryking van die wêreld meegebring het, en hulle tekort 'n verryking van die nie-Jode, hoeveel te meer hulle volle getal! Vir julle uit die nie-Jode sê ek: In soverre ek dan •apostel vir die nie-Jode is, strek dit my bediening tot eer, in die hoop dat ek dalk my eie mense jaloers kan maak, en 'n aantal van hulle tot verlossing kan bring. As hulle verwerping vir die wêreld versoening meegebring het, wat sal hulle aanneming nie beteken nie! Niks anders nie as lewe uit die dood! As die eerste stukkie deeg heilig is, dan is die hele baksel heilig. En as die wortel heilig is, dan ook die takke. En as 'n aantal van die takke van die mak olyfboom uitgebreek is, en jy, die wilde olyf, tussen die takke ingeënt is, en so aan die voedingskrag van die mak olyfboom se wortel deel gekry het, moet jy nie teenoor die ander takke spog nie. As jy wel spog – jy ondersteun nie die wortel nie, maar die wortel jou. Jy sal dan sê: Daar is takke uitgebreek sodat ék op die boom ingeënt kan word. Goed en wel. Dit is deur hulle ongeloof dat hulle uitgebreek is. Maar jy is daar deur jou geloof. Moenie hooghartig wees nie , maar wees vol ontsag. Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, sal Hy jou dalk ook nie spaar nie. Sien daarom God se goedheid sowel as sy strengheid raak: sy strengheid oor hulle wat afvallig geword het, maar sy goedheid oor jou – mits jy in sy goedheid bly, want ook jy kan uitgekap word. En wat hulle betref, as hulle nie in hulle ongeloof volhard nie, sal ook hulle weer ingeënt word. God is magtig om hulle weer terug te kan ent. Want as jy uitgekap is uit wat van nature 'n wilde olyfboom was, en jy teen jou natuur op die mak olyf oorgeënt kon word, hoeveel te meer sal die natuurlike takke nie op hulle eie olyfboom teruggeënt kan word nie! Om te voorkom dat julle eiewys sal wees, broers, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees oor hierdie misterie nie: Daar het gedeeltelik 'n verharding oor Israel gekom, totdat die volle getal van die heidene ingekom het. Op hierdie manier sal die hele Israel verlos word. Soos daar geskryf staan: “Die Redder sal uit Sion kom, en Hy sal die goddeloosheid uit Jakob verwyder. En dit sal my verbond met hulle wees wanneer Ek hulle sondes wegneem. ” Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande om julle ontwil, maar wat die uitverkiesing betref, is hulle geliefdes om die voorvaders se ontwil. Die gawes en roeping van God is immers onherroeplik. Want net soos júlle voorheen aan God ongehoorsaam was, maar nou ontferming ontvang het weens húlle ongehoorsaamheid, so is ook hulle nou ongehoorsaam weens die ontferming wat julle ontvang het, sodat ook hulle nou self ontferming kan ontvang. God het almal onder die ongehoorsaamheid ingesluit, sodat Hy aan almal ontferming kan betoon. O, diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, en hoe onnaspeurbaar sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken? Of wie het as sy raadsman opgetree? Of wie het eers gawes aan Hom gegee, vir wie Hy dit sou moes vergoed? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom kom die heerlikheid vir ewig toe! •Amen.

Video vir Romeine 11:11-36