Romeine 1:16-32
Romeine 1:16-32 AFR20
Ek skaam my immers nie vir die evangelie nie, want dit is die krag van God tot verlossing vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood, maar ook vir die Griek. Want daarin word geopenbaar dat die •geregtigheid van God geheel en al op geloof berus, soos daar geskryf staan: “Die regverdige op grond van geloof sal leef.” Die toorn van God word vanaf die hemel geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van mense wat volhou om die waarheid deur ongeregtigheid te probeer onderdruk, aangesien dit wat van God geweet kan word, aan hulle bekend is. God het dit immers aan hulle bekend gemaak. Want sy onsigbare eienskappe, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, word van die skepping van die wêreld af in sy werke begryp en is duidelik sigbaar. Gevolglik is hulle sonder verontskuldiging; want alhoewel hulle God ken, het hulle Hom nie as God geëer of gedank nie. Inteendeel, hulle denke het sinloos geword en hulle onverstandige harte is verduister. Alhoewel hulle beweer dat hulle wys is, het hulle dwaas geword. Hulle het naamlik die heerlikheid van die onsterflike God verruil vir 'n afbeelding soos dié van 'n sterflike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere. Daarom het God hulle deur middel van die begeertes van hulle harte oorgegee aan onreinheid, naamlik om hulle liggame onder mekaar te onteer – hulle wat die waarheid van God vir die leuen verruil het en geskape wesens aanbid en gedien het in plaas van die Skepper, wat tot in ewigheid lofwaardig is. Amen. Daarom het God hulle oorgegee aan oneerbare drange, want hulle vroue het die natuurlike seksuele omgang verruil vir omgang wat teen die natuur is. Net so het ook die mans die natuurlike seksuele omgang met die vrou laat vaar en vurig begin brand van begeerte na mekaar; mans het met mans skandelikheid bedryf en in hulleself die verdiende loon vir hulle afwyking ontvang. En omdat hulle dit as verwerplik beskou het om aan God erkenning te gee, het God hulle oorgegee aan 'n verwerplike denkwyse, sodat hulle onbetaamlik optree. Hulle is vol van elke vorm van onreg, boosheid, hebsug en kwaad: vol afguns, moorddadigheid, twisgierigheid, geslepenheid en kwaadwilligheid; hulle is skindertonge, kwaadstokers, haters van God, brutaal, hooghartig en grootdoenerig, vindingryk om slegte dinge te bedink, ongehoorsaam aan hulle ouers; onverstandig, onbetroubaar, liefdeloos en sonder medelye – mense wat die voorskrif van God ken, naamlik dat die mense wat hierdie dinge doen, die dood verdien. Tog doen hulle dit nie net nie, maar praat hulle dit boonop goed wanneer ander dit doen.












