Openbaring 11

11
Twee getuies
1Daar is toe aan my 'n meetstok gegee, wat net soos 'n staf lyk, met die opdrag: “Staan op, en gaan meet die tempel van God en die altaar, en tel die mense wat in die tempel aanbid. 2Die voorhof wat buite die tempel is, moet jy buite rekening laat, en nie meet nie, omdat dit aan die heidene oorgegee is. Hulle sal die heilige stad twee-en-veertig maande lank vertrap. 3En Ek sal my twee getuies opdrag gee om, in sak geklee, twaalfhonderd-en-sestig dae lank te gaan profeteer. 4 Hulle is die twee olyfbome, en ook die twee kandelare wat voor die Here van die aarde staan. 5 As iemand hulle kwaad wil aandoen, vlam daar vuur uit hulle monde wat hulle vyande verteer; en as iemand hulle kwaad wil aandoen, moet hy ook so doodgemaak word. 6Hulle beskik oor die volmag om die hemel te sluit, sodat dit gedurende die tyd wat hulle profeteer, nie sal reën nie. Hulle het ook die volmag om, so dikwels as hulle wil, die water in bloed te verander, en om die aarde met elke moontlike plaag te tref. 7Wanneer hulle hulle getuienis klaar gelewer het, sal die dier wat uit die onpeilbare diepte verrys, teen hulle oorlog maak, en die oorhand oor hulle kry, en hulle doodmaak. 8Dan sal hulle lyke langs die hoofstraat van die groot stad lê, daardie stad wat, figuurlik gesproke, Sodom en Egipte genoem word, en waar ook hulle Here gekruisig is. 9Drie en 'n half dae lank sal mense vanuit die volke en stamme en tale en nasies hulle lyke daar sien lê, maar nie toelaat dat hulle liggame in 'n grafkamer begrawe word nie. 10Die aardbewoners sal oor hulle jubel en bly wees, en vir mekaar geskenke stuur, want hierdie twee profete het die aardbewoners gefolter.”
11Maar ná drie en 'n half dae het die lewegewende asem van God in hulle ingegaan. En hulle het op hulle voete gekom, terwyl diegene wat hulle gesien het, deur groot vrees oorval is. 12Toe het hulle 'n harde stem uit die hemel vir hulle hoor sê: “Kom op hierheen!” En hulle het in 'n wolk na die hemel opgevaar, terwyl hulle vyande hulle agternakyk. 13 Op daardie uur het daar 'n groot aardbewing plaasgevind, en 'n tiende van die stad het inmekaar gestort. In die aardbewing het seweduisend mense omgekom, maar die res het vreesbevange geraak, en aan die God van die hemel heerlikheid betoon. 14Die tweede ramp het verbygegaan, en kyk, die derde een kom gou.
Sewende trompet
15Die sewende engel het toe op sy trompet geblaas. In die hemel het luide stemme opgeklink wat uitroep:
“Die heerskappy van ons Here
en sy •Christus oor die wêreld
het aangebreek,
en Hy sal as koning heers,
vir ewig en ewig.”
16Ook die vier-en-twintig ouderlinge op hulle trone voor God het op hulle gesigte voor God neergeval en Hom aanbid, 17met die woorde:
“Ons dank U, Here God, Almagtig,
U wat is en wat was,
omdat U u groot mag opgeneem het,
en as koning heers.
18Die nasies was woedend,
maar u toorn het ontvlam,
en die bestemde tyd het aangebreek
om u oordeel oor die dooies te vel,
en om u diensknegte,
die profete, en die •heiliges,
en hulle wat ontsag het vir u Naam,
klein en groot, te beloon,
en om die vernietigers
van die aarde te vernietig.”
19Toe is God se tempel in die hemel geopen, en die •verbondsark in sy tempel het sigbaar geword. Daar was ook weerligstrale, dreunings, donderslae, 'n aardbewing en 'n groot haelstorm.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid