Psalms 92

92
1'n Psalm. 'n Lied vir die Sabbatdag.
2 Dit is goed om die Here te dank,
om u Naam te besing, Allerhoogste;
3om in die môre u troue liefde
te verkondig,
en u trou in die nagte –
4met tiensnarige instrumente,
met harpe en die speel van liere.
5Want U maak my bly
met u werk, Here,
oor u handewerk jubel ek.
6 Hoe groot is u werke, Here,
hoe uitermate diep u gedagtes!
7'n Dom mens weet nie,
en 'n dwaas verstaan dit nie:
8Wanneer goddeloses
soos onkruid opskiet
en almal wat onreg pleeg, gedy –
is dit net om vir ewig
uitgedelg te word.
9Maar U is vir ewig hoog verhewe,
Here.
10Ja, kyk, u vyande, Here,
ja, kyk, u vyande gaan ten gronde;
dié wat onreg pleeg, word verstrooi.
11Maar U het my horings hoog gelig
soos dié van 'n buffel.
Suiwer olie is oor my uitgegiet.
12My oog kyk neer op my teenstanders,
op hulle wat teen my opstaan;
my oor hoor met vreugde
van die kwaaddoeners.
13Regverdiges – soos palmbome
skiet hulle op,
soos seders op die Libanon
groei hulle hoog.
14Hulle is geplant in die huis
van die Here;
in die voorhowe van ons God
blom hulle.
15In die gryse ouderdom
gedy hulle nog steeds;
hulle is weelderig en blaarryk,
16sodat hulle kan verkondig:
“Regverdig is die Here, my rots,
en daar is geen ongeregtigheid
by Hom nie.”

Tans Gekies:

Psalms 92: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid