Psalms 89

89
1'n Maskiel. Van Etan, die Esragiet .
2 Oor die troue liefde van die Here
wil ek altyd sing;
van geslag tot geslag wil ek u trou
met my mond bekend maak.
3Ja, ek sê dit:
Vir ewig word u troue liefde gevestig;
in die hemel hou U u trou in stand.
4 “Ek het 'n verbond gesluit
met my uitverkorene,
Ek het aan my dienskneg, Dawid,
met 'n eed belowe,
5 ‘Vir altyd hou Ek
jou nageslag in stand;
van geslag tot geslag het Ek
jou troon gevestig. ’ ” •Sela
6Die hemel moet u wonders prys, Here;
ja, u trou in die byeenkoms
van heiliges.
7Want wie in die uitspansel
kan langs die Here gestel word?
Wie onder die hemelwesens
is aan die Here gelyk –
8 'n uiters gedugte God
in die kring van die heiliges,
en gevrees deur almal om Hom?
9 Here, God van alle magte,
wie is so magtig soos U, Here?
U trou omring U;
10U heers oor die deining van die see.
Wanneer die golwe styg,
bring U hulle tot bedaring.
11 U, U het die deurboorde Rahab verpletter,
met u sterk arm het U
u vyande verstrooi.
12 Aan U behoort die hemel,
ook die aarde behoort aan U.
Die wêreld en alles daarop –
U, U het dit gegrondves.
13Die noorde en die suide –
U, U het dit geskep.
Tabor en Hermon jubel in u Naam.
14U het 'n magtige arm;
u hand is sterk,
u regterhand is verhewe.
15Reg en •geregtigheid
is die grondslag van u troon;
troue liefde en waarheid
gaan U tegemoet.
16Gelukkig is die volk
wat uitroepe van vreugde ken,
wat in die lig van
u teenwoordigheid loop, Here!
17In u Naam juig hulle die hele dag,
in u geregtigheid roem hulle;
18want U is hulle kragtige sieraad.
Deur u aanvaarding
het U ons sterk gemaak.
19Want aan die Here
behoort ons skild,
aan die •Heilige van Israel
behoort ons koning.
20U het destyds in 'n visioen
'n belofte gemaak
aan u getroue volgelinge.
U het gesê:
“Ek het hulp verleen aan 'n held,
Ek het 'n jong man uit die volk verhoog.
21 Ek het Dawid, my dienskneg, gevind;
met my heilige olie het Ek hom gesalf,
22hom by wie my hand
bestendig sal wees;
ja, my arm sal hom sterk maak.
23Vyande sal hom nie onverhoeds
betrap nie,
en skurke sal hom nie verdruk nie.
24Sy teenstanders sal Ek
voor hom verpletter,
en sy haters sal Ek platslaan.
25My getrouheid en troue liefde
sal met hom wees,
en in my Naam sal hy sterk word.
26Ek sal sy hand op die see lê,
op die riviere sy regterhand.
27 Hy, hy sal my aanroep,
‘U is my Vader, my God,
en die rots wat my verlos.’
28 Ek sal hom dan •eersgeborene maak,
die hoogste van die konings
van die aarde.
29Vir altyd sal Ek vir hom
my troue liefde handhaaf;
en my verbond sal bestendig
wees vir hom.
30Ek sal sy nageslag vir altyd vestig,
en sy troon,
solank as die hemel bestaan.
31“As sy seuns van my wet afwyk,
volgens my beslissings nie leef nie;
32as hulle my vaste voorskrifte
ontheilig,
my bevele nie nakom nie,
33sal Ek hulle oortreding
met slae straf
en hulle sondeskuld met houe.
34Maar my troue liefde
sal Ek nie aan hom onttrek nie,
en Ek sal nie my trou verloën nie.
35Ek sal my verbond nie skend nie
en wat oor my lippe gegaan het,
nie verander nie.
36Vir eens en vir altyd het Ek
by my heiligheid gesweer;
Ek sal nie vir Dawid lieg nie:
37 Sy nageslag sal altyd daar wees
en sy troon soos die son voor My,
38soos die maan wat altyd standhou –
'n betroubare getuie
aan die hemelruim.” •Sela
39Maar U self het hom verstoot
en verwerp,
U was woedend vir u gesalfde.
40U het die verbond
met u dienskneg opgehef,
sy kroon tot in die grond ontheilig.
41U het al sy skermmure afgebreek,
van sy versterkte stede ruïnes gemaak.
42Almal wat daar verbygaan,
het hom geplunder;
hy het 'n bespotting geword vir sy bure.
43U het die regterhand
van sy teenstanders hoog gelig.
U het al sy vyande bly gemaak.
44U, o Rots, het ook sy swaard
teen hom gedraai;
U het hom nie staande gehou
in die stryd nie.
45U het sy glans laat verdof
en sy troon, dié het U
teen die grond gegooi.
46U het die dae van sy jeug kortgeknip,
hom in skaamte gehul. Sela
47Hoe lank nog, Here?
Gaan U Uself vir ewig verberg,
sal u woede soos 'n vuur bly brand?
48Dink daaraan –
wat is my lewensduur?
Om watter sinlose rede het U
alle mensekinders geskape?
49Watter jong man leef
en sien nie die dood nie;
wie kan sy lewe aan die mag
van die •doderyk laat ontkom? Sela
50Waar is u troue liefde
van vroeër, my Heer,
wat U in u trou met 'n eed
beloof het aan Dawid?
51 My Heer, dink aan
die bespotting van u diensknegte
wat ek teen my bors dra;
dink aan al die baie volke
52wat die spot dryf –
aan u vyande, Here,
wat die spot dryf met u gesalfde
waar hy ook al gaan.
53 Die Here moet vir ewig geprys word!
Amen, amen.

Tans Gekies:

Psalms 89: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid