Psalms 78

78
1'n Maskiel. Van Asaf.
My volk, luister na my onderrig;
spits julle ore vir die woorde
uit my mond.
2 Ek gaan my mond oopmaak
vir 'n spreuk,
ek gaan raaisels uit die verlede
na vore haal.
3Wat ons gehoor het en weet,
wat ons voorouers aan ons vertel het,
4mag ons nie vir ons kinders
wegsteek nie.
Aan die volgende geslag sal ons
die roemryke dade
van die Here vertel:
van sy mag en die wonders
wat Hy gedoen het.
5Hy het 'n bepaling neergelê in Jakob,
'n wet vasgestel in Israel:
Wat Hy ons voorouers beveel het,
moet aan hulle kinders
bekend gemaak word,
6sodat die volgende geslag
dit sal weet,
die kinders wat nog gebore
moet word, sal opstaan
en dit aan hulle kinders vertel,
7en sodat húlle weer hulle
vertroue in God kan stel,
God se dade nie vergeet nie
en kan hou by sy bevele.
8 Hulle mag nie soos hulle
voorouers wees nie –
'n hardkoppige en opstandige
geslag, wie se harte
onbestendig was en wie se gees
nie aan God getrou was nie.
9Die kinders van Efraim,
gewapende boogskutters,
het teruggeval op die dag
van die geveg.
10Hulle het nie God se verbond
nagekom nie;
en sy wet het hulle geweier om te volg.
11Hulle het sy dade vergeet,
sy wonders wat Hy hulle
laat sien het.
12Voor die oë van hulle voorouers
het Hy wonders gedoen
in Egipteland,
op die vlakte van Soan.
13Hy het die see oopgekloof
en hulle laat deurtrek;
Hy het die water laat opdam soos 'n wal.
14Hy het hulle met 'n wolk gelei bedags,
en die hele nag met die lig van vuur.
15 Hy het rotse oopgekloof
in die woestyn,
en hulle baie laat drink,
asof daar 'n vloed was.
16Hy het strome uit die rotswand
laat vloei,
en water laat afloop soos riviere.
17Maar hulle het steeds
voortgegaan om teen Hom te sondig,
om in die dorre streek
teen die Allerhoogste
opstandig te wees.
18Hulle het God doelbewus
uitgedaag deur kos te vra
wat hulle begeer.
19Hulle het hulle teen God uitgespreek;
hulle het gesê:
“Kan God 'n tafel dek in die woestyn?
20Kyk, Hy het 'n rots geslaan
en water het uitgestroom,
spruite het gevloei.
Sou Hy ook brood kon gee
of vleis voorberei vir sy volk?”
21Daarom, toe die Here dit hoor,
het Hy woedend geword,
en 'n vuur het uitgebreek teen Jakob.
Ook het sy toorn opgevlam teen Israel,
22omdat hulle nie in God geglo het nie,
en nie op sy verlossing vertrou het nie.
23Hy het die wolke daarbo bevel gegee
en die deure van die hemel oopgemaak.
24 Hy het manna om te eet
op hulle laat reën,
koring van die hemel het Hy
aan hulle gegee,
25die brood van engele –
mense het dit geëet.
Padkos het Hy vir hulle gestuur –
tot versadiging toe.
26Hy het die oostewind
in die hemel laat losbars;
en deur sy krag die suidewind
laat waai.
27Hy het vleis soos stof op hulle
laat neerreën,
vlieënde voëls soos die sand
van die oseane.
28Hy het dit binne-in sy kamp laat val,
reg rondom sy verblyfplek.
29Hulle het geëet
en was heeltemal versadig;
Hy het wat hulle begeer het,
vir hulle gebring.
30Hulle het nog nie weggedraai
van wat hulle begeer het nie,
hulle kos was nog in hulle monde,
31 toe laai God se toorn al
teen hulle op.
Hy het onder hulle vettes
'n slagting aangerig
en die jong manne van Israel
op hulle knieë gedwing.
32Ten spyte hiervan het hulle
steeds gesondig
en nie aan sy wonders geglo nie.
33So het Hy hulle dae laat eindig
in nietigheid,
en hulle jare in verskrikking.
34Wanneer Hy 'n slagting
onder hulle aangerig het,
het hulle Hom geraadpleeg;
hulle het teruggedraai en God gesoek.
35Hulle het onthou dat God
hulle rots is,
dat God, die Allerhoogste,
hulle losser is.
36Maar hulle het Hom probeer
oorreed met die mond
en het vir Hom bly lieg met die tong.
37 Hulle harte was nie standvastig
teenoor Hom nie;
hulle was nie getrou aan sy verbond nie.
38Maar Hy is barmhartig;
Hy bedek hulle sondeskuld;
Hy delg hulle nie uit nie.
Hy hou dikwels sy toorn terug
en laat nie sy woede
ten volle ontwaak nie.
39Hy dink daaraan dat hulle vlees is,
net maar 'n asemteug wat gaan
en nie weer terugkeer nie.
40Hoe dikwels was hulle nie
opstandig teen Hom
in die woestyn nie,
het hulle Hom nie gegrief
in die wildernis nie.
41Hulle het God weer uitgedaag,
en die •Heilige van Israel gekrenk.
42Hulle het nie onthou
wat sy hand gedoen het nie,
dié dag toe Hy hulle vrygekoop het
van die teenstander,
43toe Hy sy tekens gedoen het in Egipte
en sy wonders op die vlakte van Soan.
44 Hy het hulle riviere
in bloed verander,
ook hulle strome –
hulle kon glad nie daarvan drink nie.
45Hy het steekvlieë onder hulle
losgelaat,
en dit het hulle geteister;
ook paddas,
en dit het verwoesting onder hulle
aangerig.
46Hy het hulle opbrengs
aan kaalvretersprinkane gegee,
die vrug van hulle arbeid
aan treksprinkane.
47Hy het hulle wingerdstokke
deur hael vernietig,
en hulle wildevyebome
deur 'n verwoestende vloed.
48Hy het hulle beeste
aan hael oorgegee,
en hulle vee aan weerligstrale.
49Hy het sy brandende toorn
onder hulle ingestuur:
gramskap, vervloeking
en benoudheid –
'n hele afdeling boodskappers
van onheil.
50Hy het die weg gebaan vir sy toorn;
Hy het hulle nie van die dood
weggehou nie,
maar hulle lewens aan pessiektes
uitgelewer.
51Hy het elke •eersgeborene
in Egipte getref,
die eerstelinge van hulle
manlike krag in die tente van Gam.
52Maar soos kleinvee
het Hy sy volk laat wegtrek.
Toe het Hy hulle soos 'n kudde
in die woestyn gelei,
53Hy het hulle veilig gelei,
sodat hulle nie verskrik was nie.
Hulle vyande is deur die see oorstroom.
54Hy het hulle na sy •heilige
grondgebied gebring,
na die berg wat sy regterhand
verwerf het.
55Hy het nasies voor hulle uit verdryf.
Hy het wat aan hulle behoort,
met 'n maatlyn opgemeet as erfdeel,
en die stamme van Israel
in húlle tente laat woon.
56Maar hulle was opstandig
en het God, die Allerhoogste,
uitgedaag;
hulle het nie sy bepalings nagekom nie.
57Hulle was afvallig en ontrou
soos hulle voorouers;
hulle het verander in 'n slap boog.
58Hulle het Hom uitgetart
met hulle offerhoogtes,
met hulle afgodsbeelde
het hulle Hom ontstel.
59Toe God dit hoor,
het Hy woedend geword
en het Israel heeltemal verwerp.
60Hy het die tabernakel by Silo
prysgegee,
die tent waarin Hy
tussen mense gewoon het.
61Hy het sy krag in ballingskap
oorgegee,
sy heerlikheid in die hande
van teenstanders.
62Hy het sy volk aan die swaard
uitgelewer;
Hy het woedend geword vir sy eiendom.
63Hulle jong manne
is deur vuur verteer,
en hulle jongmeisies
is nie met liedere geprys nie.
64Hulle priesters
het deur die swaard geval
en hulle weduwees kon nie rou nie.
65Toe het my Heer asof
uit die slaap wakker geword,
soos 'n held uit die roes van wyn.
66Hy het sy teenstanders teruggedryf
en ewige bespotting oor hulle gebring.
67Hy het die tent van Josef verwerp
en die stam van Efraim nie gekies nie.
68Maar Hy het die stam van Juda
gekies,
die berg Sion wat Hy liefhet.
69Hy het sy heiligdom
soos die hoogste hemele gebou,
soos die aarde,
wat Hy vir altyd gevestig het.
70Hy het Dawid, sy dienskneg, gekies,
en hom van die skaapkrale af
weggeneem.
71Agter die lammerooie
het Hy hom laat haal
om Jakob, sy volk, op te pas,
Israel, sy eiendom.
72Dawid het hulle
met 'n opregte hart opgepas;
met die vaardigheid van sy hande
het hy hulle gelei.

Tans Gekies:

Psalms 78: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid