Psalms 68

68
1Vir die •musiekleier. Van Dawid. 'n Psalm. 'n Lied.
2 God staan op, sy vyande spat uiteen,
sy haters vlug van Hom weg.
3Soos rook weggewaai word,
so waai U hulle weg;
soos was smelt voor 'n vuur,
so verdwyn die goddeloses voor God.
4Maar die regverdiges is bly,
hulle jubel voor God,
hulle juig van vreugde.
5Sing vir God, besing sy Naam!
Verheerlik Hom wat op die wolke ry
Here is sy Naam –
jubel voor Hom!
6'n Vader vir vaderloses,
'n regter vir weduwees,
is God in sy •heilige woonplek.
7God laat eensames weer
in 'n huisgesin woon,
Hy lei gevangenes uit na voorspoed,
maar hardkoppiges woon
in 'n verskroeide land.
8O God, toe U voor u volk
uitgegaan het,
toe U vooruitgestap het
in die wildernis, •Sela
9 het die aarde geskud.
Ook die hemel het gedrup
voor God, die Een van Sinai,
voor God, die God van Israel.
10Milde reën het U, o God,
laat uitsak oor u erfdeel;
wat uitgeput was, het U laat herleef –
11u woonplek waarin hulle woon.
In u goedheid het U
dit gereedgemaak
vir magteloses, o God.
12My Heer het 'n boodskap uitgestuur;
die vroue wat die goeie tyding
bring, is 'n groot skare:
13“Die konings met leërs vlug,
hulle vlug!
Die mooi vroue tuis verdeel die buit.
14As julle tussen die saalsakke
gaan rus –
daar is duiwe, hulle vlerke
is met silwer bedek
en hulle penvere
met geelgroen goud.”
15Wanneer die Almagtige
die konings in die land
uitmekaar jaag,
sneeu dit op die berg Salmon.
16Massiewe bergreeks,
bergrug van Basan,
bergreeks met pieke,
bergrug van Basan,
17waarom kyk julle met afguns,
bergreekse met pieke,
na die berg wat God gekies het
as sy woonplek?
Dit is ook waar die Here
vir altyd sal woon.
18Die strydwamag van God
is tienduisende,
duisende der duisende.
My Heer het van Sinai af
by die heiligdom aangekom.
19U het opgevaar na die hoogte
om daar te woon, Here God,
nadat U gevangenes weggevoer het
en skatplig gevorder het by mense,
selfs by hardkoppiges.
20My Heer moet geprys word!
Dag ná dag dra Hy ons,
God is ons verlossing. Sela
21God is vir ons die God van verlossing,
by die Here, my Heer,
is daar uitkoms uit die dood.
22God sal beslis die koppe
van sy vyande verpletter,
die harige hoofde van hulle
wat in sondeskuld volhard.
23My Heer het gesê:
“Uit Basan sal Ek hulle terugbring,
Ek sal hulle terugbring
uit die dieptes van die see,
24sodat jy jou voete
in bloed kan afspoel,
en die tonge van jou honde
deel kan kry aan die vyande.”
25Mense sien u optogte, o God,
die optogte van my God,
my Koning, by die heiligdom:
26Vooraan is die sangers,
daarna dié met snaarinstrumente
tussen jongmeisies
wat tamboeryne slaan.
27Prys God in die byeenkomste,
die Here by die bron van Israel.
28Daar is Benjamin, die jongste,
hulle heerser,
die leiers van Juda in hulle menigte,
die leiers van Sebulon,
die leiers van Naftali.
29Jou God het krag vir jou beskik.
Toon u krag, o God,
U wat in ons belang opgetree het
30vanuit u •tempel bo Jerusalem.
Vir U sal konings geskenke bring.
31Bestraf die gediertes van die riete,
die trop bulle tussen
die kalwers van volke
wat mense vertrap vir stukke silwer.
Jaag volke uitmekaar
wat graag oorlog voer.
32Bronsware moet uit Egipte kom.
Die Kussiete sal dit vinnig aandra
vir God.
33Koninkryke van die aarde,
sing vir God;
besing my Heer, Sela
34Hom wat ry
deur die oeroue, hoogste hemel.
Kyk, Hy laat sy stem,
'n magtige stem, weerklink.
35Erken die krag van God,
dat Hy hoog verhewe oor Israel is
en dat sy krag in die wolke lê.
36God wek ontsag
in jou heiligdomme, Israel;
die God van Israel,
Hy gee krag en sterkte aan die volk.
God moet geprys word!

Tans Gekies:

Psalms 68: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid