Psalms 147

147
1Halleluja!
Ja, dit is goed om ons God te besing,
ja, dit is aangenaam –
'n loflied is gepas.
2Die Here herbou Jerusalem,
die verstrooides van Israel
maak Hy bymekaar.
3Dit is Hy wat dié met gebroke
harte genees,
wat hulle wonde verbind;
4wat die getal
van die sterre bepaal,
aan hulle almal name gee.
5Ons Heer is groot en geweldig sterk;
aan sy insig is daar geen grens nie.
6Die Here help die verdruktes op;
goddeloses verneder Hy tot in die grond.
7Sing vir die Here 'n danklied;
besing ons God met begeleiding
van liere,
8 vir Hom wat die hemel bedek
met wolke,
wat vir die aarde reën gereedmaak,
gras op die berge laat groei,
9wat vir die diere hulle kos gee,
vir die jong kraaie wat krys.
10Dit is nie die krag van 'n perd,
waaroor Hy Hom verheug nie,
nie die bene van 'n man,
waarin Hy vreugde vind nie.
11Die Here vind vreugde in hulle
wat vir Hom ontsag het,
wat hulle hoop vestig
op sy troue liefde.
12Roem die Here, Jerusalem,
loof jou God, Sion,
13want Hy het die sluitbalke
van jou poorte sterk gemaak,
Hy het jou kinders in jou geseën,
14Hy wat jou grense veilig stel.
Met die vetste koring versadig Hy jou,
15Hy wat sy bevel na die aarde stuur
– sy woord beweeg vinnig –
16Hy wat sneeu gee soos wol,
ysryp soos as uitstrooi,
17wat sy ys soos krummels afgooi.
Wie kan voor sy koue standhou?
18Hy stuur sy woord en laat dit smelt;
Hy laat sy wind waai
en water begin vloei.
19 Hy maak sy woorde
aan Jakob bekend,
sy vaste voorskrifte en wette
aan Israel.
20Hy het nie so opgetree
teenoor enige ander nasie nie;
sy wette ken hulle nie.
Halleluja!

Tans Gekies:

Psalms 147: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid