Psalms 118

118
1 Prys die Here, want Hy is goed;
ja, vir ewig duur sy troue liefde.
2Laat Israel sê:
“Vir ewig duur sy troue liefde.”
3Laat die huis van Aäron sê:
“Vir ewig duur sy troue liefde.”
4Laat dié wat vir die Here
ontsag het, sê:
“Vir ewig duur sy troue liefde.”
5In my angs het ek geroep: “Here!”
Hy het my geantwoord;
die Here het vir my ruimte gemaak.
6 Die Here is vir my;
ek sal nie bang wees nie.
Wat kan 'n mens aan my doen?
7Die Here is vir my, as my helper;
en ek, ek sal op my haters neersien.
8Dit is beter om by die Here te skuil
as om op mense te vertrou.
9Dit is beter om by die Here te skuil
as om op vooraanstaandes te vertrou.
10Alle nasies het my omsingel;
in die Naam van die Here
kon ek hulle waarlik afweer.
11Hulle het my omsingel,
ja, hulle het op my toegesak;
in die Naam van die Here
kon ek hulle waarlik afweer.
12Hulle het my omsingel soos bye,
maar hulle is geblus soos 'n vuur
in doringstruike.
In die Naam van die Here
kon ek hulle waarlik afweer.
13Julle het my hard gestamp,
dat ek moes val,
maar die Here het my gehelp.
14My krag en sterkte was die Here;
Hy het my tot hulp gekom.
15Die geluid van jubelkrete
en van verlossing klink op
in die tente van regverdiges.
Die regterhand van die Here
doen kragtige dade.
16Die regterhand van die Here
is hoog gelig;
die regterhand van die Here
doen kragtige dade.
17Ek sal nie sterf nie,
maar ek sal lewe en vertel
van die dade van die Here.
18 Die Here het my ernstig tereggewys,
maar aan die dood het Hy my
nie oorgegee nie.
19Maak vir my die poorte
na •geregtigheid oop;
ek wil daardeur ingaan,
ek wil die Here prys.
20 “Dit is die poort na die Here
regverdiges mag daardeur ingaan.”
21Ek wil U prys,
omdat U my geantwoord
en my te hulp gekom het.
22 Die klip wat die bouers afgekeur het,
het die hoeksteen geword.
23Van die Here het dit gekom;
dit is 'n wonder in ons oë.
24Dit is die dag wat die Here
gemaak het;
laat ons juig
en ons in Hom verheug.
25 Ag, Here, verlos ons tog!
Ag, Here, gee tog voorspoed!
26Geseënd is hy wat kom
in die Naam van die Here.
Ons seën julle uit die huis van die Here.
27Die Here is God;
Hy het vir ons lig laat skyn.
Voer met gevlegte takke
die kringdans uit tot by
die horings van die altaar.
28U is my God en ek prys U!
My God, ek wil U verheerlik.
29Prys die Here, want Hy is goed;
ja, vir ewig duur sy troue liefde.

Tans Gekies:

Psalms 118: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid