Psalms 101

101
1Van Dawid. 'n Psalm.
Oor troue liefde en oor regspraak
wil ek sing;
U, Here, wil ek besing.
2Ek wil my toespits
op 'n onberispelike lewenswyse.
Wanneer sal ek dit bereik?
Ek sal met 'n opregte hart leef
in my huis.
3Ek sal nie iets boos voor my oë
verdra nie.
In die pleeg van wandade
het ek 'n weersin;
dit mag nie aan my kleef nie.
4'n Vals hart moet van my wegbly;
van boosheid wil ek niks weet nie.
5Wie sy medemens in die geheim
belaster,
hom sal ek vernietig.
Hovaardige oë en 'n hoogmoedige hart,
dit kan ek nie verdra nie.
6Ek is op die uitkyk
vir betroubares in die land,
sodat hulle by my kan bly;
wie 'n onberispelike lewenswyse
handhaaf, hulle mag my dien.
7Daar sal niemand in my huis
woon wat bedrog pleeg nie.
Wie leuens vertel,
sal nie voor my oë standhou nie.
8Elke môre sal ek al die goddeloses
in die land vernietig,
om so almal wat onreg pleeg,
uit die stad van die Here uit te roei.

Tans Gekies:

Psalms 101: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid