Spreuke 6:1-19

Spreuke 6:1-19 AFR20

My seun, as jy vir jou medemens borg gestaan het, vir 'n vreemde jou hand gegee het, as jy in 'n strik getrap het deur die woorde van jou mond, vasgevang is deur die woorde van jou mond, doen dan dit, my seun, om jouself te bevry, want jy het in die palm van jou medemens se hand beland: Gaan – verneder jouself! Loop reguit op jou medemens af! Laat jou oë nie toe om te slaap, en jou ooglede om in te sluimer nie. Ruk jouself los soos 'n gasel uit die hand van 'n jagter, soos 'n voël uit die hand van 'n voëlvanger. Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë, en word wys. Hy wat nie 'n •aanvoerder, opsiener of heerser het nie, berei in die somer sy kos voor, versamel in die oestyd sy voedsel. Hoe lank, luiaard, gaan jy nog bly lê? Wanneer gaan jy opstaan uit jou slaap? 'n Bietjie slaap, 'n bietjie insluimer, 'n bietjie hande vou om te rus; dan kom, soos 'n rondloper, jou armoede daar aan, jou gebrek soos 'n skaamtelose man. 'n Deugniet van 'n mens, 'n boosdoener, is hy wat met 'n mond vol valsheid rondloop, wat met sy oë knik, tekens gee met sy voete, beduie met sy vingers, met 'n verdorwe hart die hele tyd kwaad stig en tweedrag saai. Daarom, onverwags kom sy teenspoed – plotseling word hy verpletter, sonder herstel. Daar is ses dinge waarin die HERE 'n weersin het, sewe is vir Hom afstootlik: hovaardige oë, 'n bedrieglike tong, hande wat onskuldige bloed vergiet, 'n hart wat bose planne smee, voete wat gou is om na die kwaad te hardloop, 'n vals getuie wat leuens uitryg, en iemand wat tweedrag saai tussen broers.