Spreuke 14

14
1 Die wyses onder vroue
bou elkeen haar huis,
maar sotheid breek dit eiehandig af.
2 Wie in sy opregtheid
die lewenspad loop,
het ontsag vir die Here,
maar hy wat op kronkelpaaie gaan,
verag Hom.
3 In die mond van 'n sot
is daar 'n slaanding
vir sy hoogmoed,
maar die lippe van wyses
beskerm hulle.
4Waar geen beeste is nie,
is die voerkrip leeg;
maar groot is die opbrengste
deur die krag van 'n bul.
5 'n Betroubare getuie lieg nie,
maar 'n vals getuie ryg leuens uit.
6 'n Spotter soek wysheid,
maar daar is niks;
kennis is vir 'n verstandige maklik.
7 Bly weg van 'n dwase man;
jy sal nie lippe met kennis
leer ken nie.
8 Die wysheid van 'n slim mens
is om sy lewenspad te verstaan,
maar die sotheid van dwase is bedrog.
9 Sondeskuld maak 'n bespotting
van sotte,
maar tussen opregtes
is daar welwillendheid.
10 Die hart ken sy eie bitterheid,
en in sy vreugde kan 'n buitestander
nie deel nie.
11 Die huis van goddeloses
word verdelg,
maar die tent van opregtes gedy.
12 Daar is 'n pad
wat vir 'n mens reg lyk,
maar dit eindig by paaie na die dood.
13 Ook onder gelag
kan 'n hart pyn ervaar;
die einde van vreugde is verdriet.
14 Van sy eie optrede
kry 'n afvallige genoeg,
en 'n goeie man kry genoeg
van wat oor hom kom.
15 Onkundiges glo elke woord,
maar 'n slim mens
oorweeg sy voetstappe.
16 'n Wyse is versigtig
en vermy die kwaad,
maar 'n dwaas is humeurig
en vol selfvertroue.
17 Wie kort van humeur is,
begaan 'n sotheid,
en iemand met slinkse planne
word gehaat.
18 Onverstandiges erf sotheid,
maar slim mense dra kennis
as hoofbedekking.
19 Slegtes buig neer voor goeies,
en goddeloses by die poorte
van 'n regverdige.
20 Selfs deur sy medemens
word 'n arme gehaat,
maar die vriende van 'n ryke is baie.
21 Wie sy medemens verag, sondig;
maar wie medelye het
met magteloses, is gelukkig.
22 Is hulle wat kwaad beplan
nie op 'n dwaalspoor nie,
en is troue liefde en waarheid
nie bestem vir hulle
wat die goeie beplan nie?
23 In alle harde werk
is daar voordeel,
maar 'n blote gepraat
lei net tot gebrek.
24 Die kroon van wyses
is hulle rykdom;
die sotheid van dwase
is blote sotheid.
25 'n Betroubare getuie red lewens,
maar wie leuens uitryg, is bedrieglik.
26 In ontsag vir die Here
lê daar sterk vertroue,
en vir iemand se kinders
bied dit 'n skuilplek.
27 Ontsag vir die Here
is 'n bron van lewe,
sodat die vangstrikke van die dood
vermy kan word.
28 In 'n oorvloed van mense
lê 'n koning se luister,
maar in die afwesigheid van 'n volk,
lê 'n hooggeplaaste se ondergang.
29 Die geduldige mens
is ryk aan verstandigheid,
maar wie kort van humeur is,
stel sotheid ten toon.
30 'n Kalm hart gee lewe
aan die liggaam,
maar naywer is verrotting
in die gebeente.
31 Hy wat 'n arme uitbuit,
beledig sy Maker,
maar wie hom oor die behoeftige
ontferm, eer Hom.
32 Deur sy boosheid
word 'n goddelose omvergewerp,
maar 'n regverdige vind
'n skuilplek, selfs by sy dood.
33 In die hart van 'n verstandige
rus wysheid;
selfs onder dwase is dit bekend.
34 Geregtigheid verhoog 'n nasie,
maar sonde is 'n skande vir volke.
35 Die welwillendheid van die
koning is daar
vir 'n verstandige dienaar,
maar sy gramskap is bedoel
vir 'n skandemaker.

Tans Gekies:

Spreuke 14: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid