Spreuke 12:1-13

Spreuke 12:1-13 AFR20

Wie vermaning liefhet, het kennis lief, maar wie teregwysing haat, is dom. 'n Goeie mens geniet die HERE se goedkeuring, maar iemand met slinkse planne veroordeel Hy. 'n Mens kan nie bestendig wees deur goddeloosheid nie, en die wortel van regverdiges kan nie losgeskud word nie. 'n Knap vrou is 'n kroon vir haar man, maar soos verrotting in sy gebeente is 'n vrou wat skande maak. Die planne van regverdiges is reg, maar die leiding van goddeloses is bedrieglik. Die woorde van goddeloses is 'n hinderlaag tot bloedvergieting, maar die monde van opregtes red hulle. Goddeloses word omvergewerp en is nie meer daar nie, maar die huis van regverdiges bly staan. Ooreenkomstig sy skranderheid word 'n man geprys, maar iemand met 'n verwarde hart is uitgelewer aan veragting. Wie gering geag word, maar tog 'n slaaf het, is beter as iemand wat hom belangrik voordoen, maar 'n gebrek aan brood het. 'n Regverdige ken die behoeftes van sy diere, maar die ontferming van goddeloses is wreed. Wie sy grond bewerk, eet hom versadig aan brood, maar wie nietighede najaag, is sonder verstand. 'n Goddelose vind vreugde in 'n vangnet van booshede, maar die wortel van regverdiges is goed gevestig. In 'n oortreding met die lippe lê die valstrik vir 'n bose mens, maar 'n regverdige ontkom aan benoudheid.