Spreuke 1:8-19
Spreuke 1:8-19 AFR20
My seun, luister na die vermaning van jou vader, en moenie die onderrig van jou moeder verontagsaam nie; want dit is 'n bekoorlike krans vir jou kop, en halssnoere vir jou nek. My seun, as sondaars jou wil verlei, moenie instem nie. As hulle sê: “Gaan saam met ons; laat ons 'n hinderlaag opstel vir bloedvergieting; laat ons 'n onskuldige voorlê sonder rede; laat ons, soos die •doderyk, hulle lewend verslind, volledig, soos dié wat afdaal in die put. Allerlei kosbare besittings sal ons vind; ons sal ons huise vol maak met buit. Deel jou lot met ons; ons sal almal net een beursie hê.” My seun, moenie saam met hulle op die pad gaan nie, hou jou voet terug van hulle paaie; want na die kwaad hardloop hulle voete; hulle is haastig om bloed te vergiet. Ja, tevergeefs word 'n net uitgesprei, waar elke voël met vlerke dit sien; maar hierdie manne stel 'n hinderlaag op vir hulle eie bloedvergieting; hulle stel 'n lokval vir hulleself! So verloop die lewenspad van elkeen wat onregverdige wins maak – dit kos die een wat dit verkry, sy lewe.





