Filippense 4

4
1Daarom, my broers, julle vir wie ek lief is, en na wie ek verlang, my vreugde en my kroon – geliefdes, staan dan só vas in die Here.
Vermanings
2Ek vermaan Euodia en ek vermaan Sintige om in die Here eensgesind te wees. 3Ja, ek vra jou ook, getroue medewerker, help hierdie vroue. Hulle het saam met my vir die saak van die evangelie gestry, ook saam met Klemens en my ander medewerkers wie se name in die boekrol van die lewe staan. 4 Verbly julle altyd in die Here! Ek herhaal: Verbly julle! 5Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. 6Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. 7 En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in •Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.
8 Verder, broers,
alles wat waar is,
alles wat eerbaar is,
alles wat reg is,
alles wat rein is,
alles wat lieflik is,
alles wat lof verdien,
ja, watter deug of watter prysenswaardige saak daar ook mag wees: rig julle gedagtes daarop. 9Wat julle van my geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het: hou aan om dit te doen. En die God van vrede sal met julle wees.
Dank vir ondersteuning
10Ek is in die Here besonder bly dat julle nou uiteindelik opnuut aan my gedink het. Eintlik het julle wel aan my gedink, maar julle het net nie die geleentheid daarvoor gehad nie. 11Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om in alle omstandighede tevrede te wees. 12Ek weet wat dit is om te min te hê, en ek weet wat dit is om oorvloed te hê; ek is in elke opsig in al hierdie dinge ingewy: om versadig te wees, sowel as om honger te ly; om oorvloed te hê, sowel as om gebrek te ly. 13 Tot dit alles is ek in staat deur Hom wat my krag gee. 14Nogtans was dit goed van julle om in my swaarkry te deel. 15 Julle weet ook, Filippense, dat aan die begin van my evangelieverkondiging, toe ek van Macedonië vertrek het, geen •gemeente tot my rekening van inkomste en uitgawes bygedra het nie, behalwe slegs julle. 16Ook in Thessalonika het julle meer as een maal iets vir my behoeftes gestuur. 17Dit is nie dat ek van julle 'n bydrae verlang nie; ek verlang eerder dat die opbrengs op julle belegging toenemend sal groei. 18Ek is ten volle vergoed, en het meer as genoeg; ek is ten volle versorg, noudat ek van Epafroditus ontvang het wat van julle af kom: 'n geurige offer, 'n aanneemlike offergawe wat God behaag. 19En my God sal ruimskoots in al julle behoeftes voorsien, in ooreenstemming met sy heerlike rykdom in •Christus Jesus. 20Aan ons God en Vader kom die heerlikheid toe vir ewig en ewig! •Amen.
Groete
21Groet elke heilige in Christus Jesus. Die broers wat hier by my is, stuur vir julle groete. 22Al die •heiliges, veral dié van die keiser se huishouding, stuur vir julle groete.
Seëngroet
23Die genade van die Here Jesus •Christus bly met julle gees!

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid