Numeri 28

28
Gereelde offers en feeste
1Die Here het met Moses gepraat en gesê: 2“ Gee aan die Israeliete opdragte en sê vir hulle, ‘Wat my offers betref: Let nougeset daarop om op die vasgestelde tyd my voedsel, my offergawes, as 'n geur wat My behaag, vir My aan te bied.’ 3 Sê vir hulle, ‘Dit is die offergawe wat julle vir die Here moet aanbied: twee jaaroud ramlammers sonder gebrek, daagliks as 'n gereelde •brandoffer. 4Een ramlam moet jy in die oggend offer en die tweede ramlam teen laatmiddag 5 en 'n tiende van 'n efa gesifte meel as •graanoffer, gemeng met 'n kwart hin geparste olyfolie. 6Dit is die gereelde brandoffer wat op die berg Sinai gebring is as 'n geurige offer, 'n offergawe aan die Here. 7Die bypassende •drankoffer is 'n kwart hin saam met die eerste ramlam. In die heiligdom moet jy die drankoffer van sterk drank vir die Here uitgiet. 8Die tweede ramlam moet jy teen laatmiddag offer. Soos die •graanoffer in die oggend, moet jy dit offer en die bypassende drankoffer as 'n geurige offer, 'n offergawe aan die Here.’ ”
Offers vir die Sabbat en nuwemaan
9“ ‘ Op die Sabbatdag moet twee jaaroud ramlammers sonder gebrek en twee tiendes van 'n efa gesifte meel as graanoffer, gemeng met olyfolie en die bypassende drankoffer, gebring word – 10'n brandoffer op elke Sabbatdag, by die gereelde brandoffer en bypassende drankoffer.
11 “ ‘Op die eerste dag van elke maand moet julle vir die Here 'n brandoffer aanbied: twee jong bulle en een ram, asook sewe jaaroud ramlammers sonder gebrek; 12drie tiendes van 'n efa gesifte meel, gemeng met olyfolie, as •graanoffer by elke bul en twee tiendes van 'n efa gesifte meel, gemeng met olyfolie, as graanoffer by elke ram; 13'n tiende van 'n efa gesifte meel, gemeng met olyfolie, as graanoffer by elke ramlam. Dit is 'n brandoffer met 'n aangename geur, 'n offergawe aan die Here. 14Die bypassende drankoffers is 'n halwe hin wyn vir 'n bul, 'n derde hin vir 'n ram en 'n kwart hin vir 'n ramlam. Dit is die brandoffer met elke nuwemaan, vir al die maande van die jaar. 15Een bokram moet as •reinigingsoffer vir die Here gebring word, naas die gereelde brandoffer en bypassende drankoffer.’ ”
Jaarlikse feeste
16“ ‘ In die eerste maand, op die veertiende dag van die maand, is dit die Pasga van die Here. 17Op die vyftiende dag van dieselfde maand is daar 'n fees – sewe dae lank moet ongesuurde brood geëet word. 18Op die eerste dag moet daar 'n heilige byeenkoms wees. Julle mag geen gewone take verrig nie. 19Julle moet 'n offergawe, 'n brandoffer, vir die Here aanbied: twee jong bulle, een ram en sewe jaaroud ramlammers. Hulle moet sonder gebrek wees. 20Die bypassende •graanoffer van gesifte meel, gemeng met olyfolie, moet julle ook bring: drie tiendes van 'n efa vir die bul en twee tiendes van 'n efa vir die skaapram. 21'n Tiende van 'n efa moet jy offer vir elkeen van die sewe ramlammers, 22dan ook nog een bokram as reinigingsoffer om vir julle versoening te doen. 23Afgesien van die brandoffer in die oggend, wat die gereelde brandoffer is, moet julle hierdie offers bring. 24Op dié wyse moet julle elke dag, sewe dae lank, voedsel offer, 'n geurige offer, 'n offergawe aan die Here. By die gereelde brandoffer en die bypassende drankoffer moet julle dit offer. 25Op die sewende dag moet julle 'n heilige byeenkoms hou. Julle mag geen gewone take verrig nie.
26 “ ‘Op die dag van die eerste opbrengs van die oes, wanneer julle 'n graanoffer van die nuwe oes vir die Here aanbied tydens julle Fees van die Weke, moet julle 'n heilige byeenkoms hou. Julle mag geen gewone take verrig nie. 27Julle moet as 'n brandoffer, as 'n geurige offer vir die Here, twee jong bulle, een ram en sewe jaaroud ramlammers, aanbied, 28met die bypassende graanoffer van gesifte meel, gemeng met olyfolie: drie tiendes van 'n efa vir elke bul, twee tiendes van 'n efa vir die een ram, 29'n tiende van 'n efa vir elkeen van die sewe ramlammers, 30en dan ook nog een bokram om vir julle versoening te doen. 31Afgesien van die gereelde brandoffer en die bypassende graanoffer, moet julle dit met bypassende drankoffers bring. Hulle moet sonder gebrek wees.’ ”

Tans Gekies:

Numeri 28: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid