Die hele volksvergadering het toe hard uitgeroep en die volk het daardie hele nag gekerm. Al die Israeliete het by Moses en Aäron gemor en die hele volksvergadering het vir hulle gesê: “Het ons maar in Egipteland gesterf; of het ons maar in hierdie woestyn gesterf! Waarom bring die HERE ons na hierdie land, net om deur die swaard te val? Ons vroue en ons jong kinders gaan buit word! Is dit nie vir ons beter om na Egipte terug te keer nie?” Hulle sê toe vir mekaar: “Kom ons wys 'n leier aan en gaan terug na Egipte.”
Moses en Aäron het op hulle gesigte neergeval voor die hele byeenkoms van die volksvergadering van die Israeliete. Josua, seun van Nun, en Kaleb, seun van Jefunne, twee van dié wat die land verken het, het hulle klere geskeur en vir die hele volksvergadering van die Israeliete gesê: “Die land wat ons deurkruis het om dit te verken, is 'n buitengewoon goeie land. As die HERE ons goedgesind is, sal Hy ons in hierdie land inneem en dit vir ons gee – 'n land wat oorloop van melk en heuning. Teen die HERE moet julle net nie in opstand kom nie. Julle moenie bang wees vir die volk van die land nie, want hulle is 'n maklike prooi vir ons. Hulle beskutting het van hulle gewyk, en die HERE is met ons. Moenie vir hulle bang wees nie.”
Toe die hele volksvergadering dreig om hulle met klippe dood te gooi, het die heerlikheid van die HERE in die Tent van Ontmoeting aan al die Israeliete verskyn.
Die HERE het vir Moses gesê: “Hoe lank gaan hierdie volk My nog minag? Hoe lank gaan hulle My nie vertrou nie, ten spyte van al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het? Ek gaan hulle met pessiekte tref en hulle onterf. Dan sal Ek jou 'n nasie maak, groter en sterker as hulle.”
Daarop het Moses vir die HERE gesê: “Die Egiptenare sal dit hoor – U het immers hierdie volk met u krag uit hulle midde laat wegtrek – en dan sal hulle dit vir hierdie land se inwoners vertel. Hulle het gehoor dat U, HERE, onder hierdie volk teenwoordig is en dat U, HERE, van aangesig tot aangesig aan hulle verskyn het en dat u wolk bo hulle bly – ja, dat U in 'n wolkkolom bedags voor hulle uitgaan en in 'n vuurkolom snags. As U dan hierdie volk soos een man om die lewe bring, sal die nasies wat van u roem gehoor het, sê, ‘Dit is omdat die HERE nie in staat was om hierdie volk in die land in te bring wat Hy met 'n eed aan hulle beloof het nie, dat Hy hulle in die woestyn omgebring het. ’ Daarom dan, laat die krag van my Heer tog groot wees, soos U gesê het,
“ ‘Die HERE is geduldig
en oorvloedig in troue liefde.
Hy skeld sondeskuld en oortreding kwyt,
maar laat beslis niks ongestraf nie;
Hy laat kinders tot die derde
en vierde geslag
boet vir die skuld van voorouers.’
“Vergewe asseblief die sondeskuld van hierdie volk volgens die grootheid van u troue liefde, soos U hierdie volk van Egipte af tot hier kwytgeskeld het.”
Die HERE het gesê: “Ek vergewe, soos jy versoek. Maar aan die ander kant, so seker as wat Ek leef, en so seker as wat die heerlikheid van die HERE die hele aarde vul, niemand van al die manne wat my heerlikheid en my tekens gesien het wat Ek in Egipte en in die woestyn gedoen het, en My nou al tien keer uitgedaag het, en na my stem nie geluister het nie, sal die land sien wat Ek aan hulle voorouers met 'n eed beloof het nie. Ja, almal wat My minag, sal dit nie sien nie. Maar wat my dienskneg Kaleb betref, omdat hy 'n ander gees openbaar het, en My met volharding gevolg het, sal Ek hom inbring in die land waarheen hy gekom het. Sy nageslag sal dit in besit neem.
“Die Amalekiete en die Kanaäniete bewoon die oop vlaktes. Draai môre weg, dan trek julle weg die woestyn in, op pad na die Rietsee. ”