Numeri 10

10
Twee silwertrompette
1Die Here het met Moses gepraat en gesê: 2“ Maak vir jou twee silwertrompette. Deur pletwerk moet jy dit maak. Gebruik dit vir die saamroep van die volksvergadering en vir die opbreek van die kampe. 3Wanneer op al twee geblaas word, moet die hele volksvergadering by jou bymekaarkom by die ingang van die •Tent van Ontmoeting. 4 Maar as daar net op een geblaas word, moet die leiers, die stamhoofde van Israel, by jou bymekaarkom. 5 Wanneer julle 'n waarskuwingsein blaas, moet die kampe aan die oostekant wegtrek. 6 Wanneer julle 'n tweede waarskuwingsein blaas, moet die kampe aan die suidekant wegtrek. 'n Waarskuwingsein moet geblaas word vir kamp opbreek; 7 maar om die geloofsgemeenskap bymekaar te roep, moet julle gewoonweg blaas, nie 'n waarskuwingsein nie. 8 Die seuns van Aäron, die priesters, moet op die trompette blaas. Die blaas van die trompette is 'n vaste voorskrif wat altyd vir julle en vir julle nageslagte geld.
9“ As julle in julle land in 'n geveg betrokke raak teen 'n teenstander wat julle aanval, moet julle met die trompette 'n waarskuwingsein blaas. Dan sal julle in herinnering gebring word voor die Here, julle God, en julle sal van julle vyande verlos word. 10 In 'n tyd wanneer julle vreugde ervaar, tydens julle vaste feeste en julle nuwemaansfeeste, moet julle by julle •brandoffers en •maaltydoffers op die trompette blaas. Die trompette sal julle by God in herinnering roep. Ek is die Here julle God.”
Vertrek vanaf Sinai
11 Op die twintigste van die tweede maand in die tweede jaar het die wolk opgegaan van die •tabernakel met die Getuienis. 12 Die Israeliete het volgens hulle trekgroepe weggetrek uit die Sinaiwoestyn. Die wolk het in die Paranwoestyn vertoef.
13 Toe hulle op bevel van die Here by monde van Moses vir die eerste keer kamp opgebreek het, 14 het die eenheid van die nageslag van Juda se kamp eerste weggetrek, volgens hulle leërafdelings. Oor Juda se leërafdeling was Nagson, seun van Amminadab. 15Oor die leërafdeling van die stam van Issaskar se nageslag was Netanel, seun van Suar. 16Oor die leërafdeling van die stam van Sebulon se nageslag was Eliab, seun van Gelon. 17 Toe die tabernakel afgebreek is, het die nageslag van Gerson en die nageslag van Merari, wat die tabernakel gedra het, weggetrek.
18 Die eenheid van die kamp van Ruben het daarna volgens hulle leërafdelings weggetrek. Oor Ruben se leërafdeling was Elisur, seun van Sedeür; 19oor die leërafdeling van die stam van Simeon se nageslag was Selumiël, seun van Suri-Saddai; 20en oor die leërafdeling van die stam van Gad se nageslag was Eljasaf, seun van Deüel. 21 Dié wat van Kehat afstam, wat die heilige voorwerpe gedra het, het toe weggetrek. Die tabernakel moes opgeslaan word voordat hulle op 'n plek aankom.
22 Die eenheid van die kamp van Efraim se nageslag het daarna volgens hulle leërafdelings weggetrek. Oor Efraim se leërafdeling was Elisama, seun van Ammihud; 23oor die leërafdeling van die nageslag van Manasse was Gamliël, seun van Pedasur; 24en oor die leërafdeling van die stam van Benjamin se nageslag was Abidan, seun van Gidoni.
25 Die eenheid van die kamp van Dan se nageslag, wat die agterhoede vir al die kampe gevorm het, het daarna volgens hulle leërafdelings weggetrek. Oor Dan se leërafdeling was Agiëser, seun van Ammi-Saddai; 26oor die leërafdeling van die stam van Aser se nageslag was Pagiël, seun van Ogran; 27en oor die leërafdeling van die stam van Naftali se nageslag was Agira, seun van Enan. 28 Dit was die trekgroepe van die Israeliete, volgens hulle leërafdelings. So het hulle weggetrek.
29 Moses het vir Gobab, seun van Reüel, Moses se skoonvader, die Midianiet, gesê: “Ons gaan nou wegtrek na die plek waarvan die Here gesê het, ‘Dit gee Ek vir julle.’ Kom saam met ons. Ons sal vir jou goed wees, want die Here het goeie dinge aan Israel beloof.” 30Gobab het vir hom gesê: “Ek sal nie saamgaan nie, maar eerder na my land en my familie terugkeer.” 31Moses het geantwoord: “Moet ons asseblief nie verlaat nie, want juis jy weet waar ons kan kamp in die woestyn, en jy kan ons oë wees. 32 As jy saam met ons gaan, sal ons daar die goeie wat die Here aan ons gaan doen, met jou deel.”
33 Hulle het drie dagreise ver van die berg van die Here af getrek met die verbondsark van die Here wat gedurende die drie dagreise voor hulle uit getrek het om vir hulle 'n rusplek te soek. 34 Die wolk van die Here was bedags bo hulle wanneer hulle van 'n kampplek af weggetrek het.
35Wanneer die ark weggetrek het, het Moses gesê:
“Tree op, Here,
sodat u vyande verstrooi mag word,
en hulle wat U haat,
voor U mag wegvlug!”
36En wanneer die ark dan tot rus gekom het, het hy gesê:
“Kom terug, Here,
na die tienduisende van die stamme
van Israel!”

Tans Gekies:

Numeri 10: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid