Nahum 1:1-8

Nahum 1:1-8 AFR20

Profesie oor Nineve. Boek van die openbaring aan Nahum, die Elkosiet. HERE Die HERE is 'n besitlike God, en Hy wreek Hom. Die HERE neem wraak met woede. Die HERE wreek Hom op sy teenstanders, Hy is toornig teenoor sy vyande. Die HERE is geduldig, maar geweldig sterk. Die HERE laat beslis niks ongestraf nie. Deur donderstorm en orkaan loop sy pad, wolke is die stof van sy voete. Hy berispe die see en laat dit opdroog; al die riviere laat Hy wegdroog. Basan en Karmel verdor, die bloeisels van Libanon verwelk. Die berge bewe voor Hom, die heuwels stort ineen. Die aarde lê verwoes voor Hom, ja, die wêreld met al sy bewoners. Wie kan staande bly voor sy verontwaardiging, wie kan sy brandende toorn weerstaan? Wanneer sy woede uitbars soos vuur, spat rotse voor Hom uiteen. Die HERE is goed, 'n toevlugsoord in tye van bedreiging. Hy sorg vir wie by Hom skuil, maar met 'n vloedgolf vernietig Hy die stad geheel en al, sy vyande agtervolg Hy tot in die duisternis.