Markus 11

11
Intog in Jerusalem
(Matt 21:1-11; Luk 19:28-40; Joh 12:12-19)
1Toe hulle naby Jerusalem kom, by Betfage en Betanië teen die Olyfberg, stuur Jesus twee van sy dissipels 2met die opdrag: “Gaan na die dorpie daar voor julle, en sodra julle in die dorpie ingaan, sal julle 'n vasgemaakte donkievul vind waarop niemand nog ooit gesit het nie. Maak hom los en bring hom. 3As iemand julle vra, ‘Waarom doen julle dit?’ sê dan, ‘Die Here het hom nodig, en Hy sal hom dadelik hierheen terugstuur.’ ” 4Hulle het gegaan en 'n donkievul gevind, vasgemaak by 'n deur buite op die straat, en hom losgemaak. 5Van die mense wat daar gestaan het, het vir hulle gevra: “Waarom maak julle die donkievul los?” 6Hulle het hulle toe geantwoord soos Jesus beveel het, en die mense het hulle laat begaan. 7Hulle bring toe die donkievul na Jesus en gooi hulle boklere oor hom, en Jesus het op hom gaan sit. 8Baie mense het hulle boklere op die pad oopgesprei, en ander weer takke met blare wat hulle in die veld afgekap het. 9Dié wat voor geloop het en dié wat gevolg het, het uitgeroep:
“Hosanna!
Geseënd is Hy wat kom
in die Naam van die Here!
10Geseënd is die koninkryk wat kom,
dié van ons vader Dawid!
Hosanna in die hoogste!”
11Jesus het in Jerusalem die tempelterrein binnegegaan. En nadat Hy na alles rondom Hom gekyk het, het Hy, omdat dit reeds aand was, na Betanië vertrek met die twaalf.
Vervloeking van die vyeboom
(Matt 21:18-19)
12Toe hulle die volgende dag van Betanië af vertrek, het Hy honger geword. 13Hy het van ver af 'n vyeboom met blare gesien, en gaan kyk of Hy nie miskien iets daaraan sou vind nie. Toe Hy by die boom kom, het Hy niks gevind nie, net blare, want dit was nie tyd vir vye nie. 14Hy sê toe vir die vyeboom: “Mag niemand tot in ewigheid ooit weer 'n vrug van jou af eet nie!” Sy dissipels het dit gehoor.
Reiniging van die tempel
(Matt 21:12-17; Luk 19:45-48; Joh 2:13-22)
15Hulle het in Jerusalem aangekom. Jesus het toe die tempelterrein binnegegaan en die mense wat op die tempelterrein aan die koop en verkoop was, begin uitjaag. Hy het ook die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers omgegooi, 16en niemand toegelaat om enige voorwerp oor die tempelterrein te dra nie. 17Hy het hulle geleer en gesê: “Staan daar nie geskryf nie,
“ ‘My huis sal 'n huis van gebed
vir al die nasies genoem word’?
Maar julle het daarvan
'n rowerspelonk gemaak.”
18Die leierpriesters en die skrifkenners het dit gehoor en wou Hom om die lewe bring; want hulle was bang vir Hom, omdat die hele skare verwonderd was oor sy lering. 19Toe dit aand geword het, het Jesus en sy dissipels uit die stad uitgegaan.
Die verdorde vyeboom
(Matt 21:20-22)
20 Toe hulle vroegoggend daar verbygaan, het hulle die vyeboom gesien, verdor tot in sy wortels. 21•Petrus het onthou – en sê vir Hom: “Rabbi, kyk, die vyeboom wat U vervloek het, is verdor!” 22Jesus antwoord hulle toe: “Julle moet geloof in God hê. 23 •Amen, Ek sê vir julle: Wie vir hierdie berg sê, ‘Lig jouself op en gooi jouself in die see,’ en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, gaan gebeur, vir hom sal dit gebeur. 24Daarom sê Ek vir julle, alles waarvoor julle bid en vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so gebeur. 25En wanneer julle staan en bid – as julle iets teen iemand het, vergeef hom, sodat julle Vader in die hemele julle ook julle oortredings kan vergeef. ”
Vraag oor Jesus se gesag
(Matt 21:23-27; Luk 20:1-8)
27Hulle het toe weer in Jerusalem aangekom. En terwyl Hy op die tempelterrein rondstap, kom die leierpriesters, die skrifkenners en die familiehoofde na Hom 28en vra: “Op watter gesag doen jy hierdie dinge? Of wie het aan jou dié gesag gegee dat jy hierdie dinge kan doen?” 29Jesus het hulle geantwoord: “Ek sal julle een vraag vra. Antwoord My, en dan sal Ek julle sê op watter gesag Ek hierdie dinge doen. 30Die doop van Johannes, was dit van die hemel of van mense? Antwoord My!” 31 Hulle het onder mekaar geredeneer: “As ons sê, ‘van die hemel’, sal Hy sê, ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’ 32Maar as ons sê, ‘van mense ...’?” Hulle was bang vir die skare, want almal het Johannes inderdaad as 'n profeet beskou. 33Daarom het hulle Jesus geantwoord: “Ons weet nie.” Jesus sê toe vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle op watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.”

Tans Gekies:

Markus 11: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid