Matteus 15:21-29
Matteus 15:21-29 AFR20
Jesus het daarvandaan vertrek en na die streke van Tirus en Sidon gegaan. En skielik het 'n Kanaänitiese vrou uit daardie omgewing vorentoe gekom en hard uitgeroep: “Ontferm U oor my, Here, •Seun van Dawid! My dogter word geweldig geteister deur 'n demoon.” Hy het haar egter glad nie geantwoord nie. Sy dissipels het nader gekom en Hom versoek: “Stuur haar weg, want sy hou aan skreeu agter ons aan.” Hy het geantwoord: “Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel. ” Sy het egter nader gekom, voor Hom neergeval en gesê: “Here, help my!” Hy het geantwoord: “Dit is nie mooi om die kinders se brood te neem en vir die hondjies te gooi nie.” Maar sy het gesê: “Ja, Here, en tog eet die hondjies van die krummels wat van hulle eienaars se tafel val. ” Toe het Jesus haar geantwoord: “O vrou, groot is jou geloof! Laat dit vir jou wees soos jy wil hê. ” En haar dogter was van daardie oomblik af genees. Jesus het daarvandaan vertrek en al langs die See van Galilea geloop. Daarna het Hy teen die berg opgegaan en daar gaan sit.

