Matteus 12:1-32
Matteus 12:1-32 AFR20
In daardie tyd het Jesus op die Sabbat deur die gesaaides geloop. Sy dissipels het honger geword, en begin om die are te pluk en te eet. Toe die •Fariseërs dit sien, sê hulle vir Hom: “Kyk, u dissipels doen iets wat op die Sabbat nie toelaatbaar is nie. ” Maar Hy sê vir hulle: “Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het toe hy en dié saam met hom honger geword het nie? Hoe hy die huis van God binnegegaan, en hulle die •vertoonbrode geëet het – waarvan nie hy of dié saam met hom mag geëet het nie, maar net die priesters? Of het julle nie in die Wet gelees dat die priesters die Sabbat ontheilig wanneer hulle op die Sabbat in die •tempel diens doen, maar tog onskuldig bly nie? Ek sê vir julle: Wat hiér is, is groter as die tempel. As julle maar net begryp het wat bedoel word met ‘Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie,’ sou julle nie hierdie onskuldige mense veroordeel het nie. Die •Seun van die Mens is immers Here van die Sabbat.” Toe het Jesus daarvandaan vertrek en hulle •sinagoge binnegegaan. En kyk, daar was 'n man met 'n verdorde hand. Om Hom te kon aankla, vra hulle Hom toe: “Is dit toelaatbaar om iemand op die Sabbat gesond te maak?” Hy het egter vir hulle gesê: “Watter mens onder julle wat net een skaap het, sal dit nie gryp en uithaal as dit op die Sabbat in 'n sloot val nie? Hoeveel meer is 'n mens dan nie werd as 'n skaap nie! Daarom is dit toelaatbaar om op die Sabbat goed te doen. ” Toe sê Hy vir die man: “Steek uit jou hand!” Hy het dit uitgesteek en dit het gesond geword, gesond soos die ander een. Die •Fariseërs het toe uitgegaan en planne teen Hom beraam, sodat hulle Hom om die lewe kon bring. Toe Jesus dit agterkom, het Hy daarvandaan weggegaan. Groot skares het Hom gevolg. Hy het hulle almal gesond gemaak en gewaarsku om Hom nie bekend te laat word nie. So sou vervul word wat deur die profeet Jesaja gesê is: “Kyk, my Dienskneg wat Ek gekies het, my Geliefde oor wie Ek My verbly! Ek sal my Gees op Hom lê, en Hy sal die reg aan die nasies verkondig. Hy sal nie twis nie en nie skreeu nie; sy stem sal 'n mens nie in die strate hoor nie. 'n Geknakte riet sal Hy nie afbreek nie, en 'n rokende lamppit sal Hy nie uitdoof nie, totdat Hy die reg laat seëvier. En op sy Naam sal die nasies hulle hoop vestig.” Toe is iemand wat deur 'n demoon besete, en blind en stom was, na Jesus gebring, en Hy het hom gesond gemaak, sodat die stomme kon praat en sien. Al die mense was uit die veld geslaan en het gesê: “Is hierdie man nie dalk die •Seun van Dawid nie?” Toe die •Fariseërs hiervan te hore kom, het hulle gesê: “Dit is slegs deur Beëlsebul, die aanvoerder van die demone, dat hierdie man demone uitdryf.” Omdat Hy hulle gedagtes geken het, het Hy vir hulle gesê: “Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, gaan ten gronde, en geen dorp of huis wat teen homself verdeeld is, sal staande bly nie. As Satan Satan uitdryf, is hy teen homself verdeeld; hoe sal sy koninkryk dan staande bly? En as Ek deur Beëlsebul die demone uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle uit? Daarom sal hulle regters oor julle wees. Maar as Ek deur die Gees van God die demone uitdryf, dan het die •koninkryk van God julle bereik. Of hoe kan iemand in die huis van 'n sterk man ingaan om sy besittings te steel as hy nie eers die sterk man vasbind nie? Eers dan sal hy sy huis beroof. Wie hulle nie by My skaar nie, is teen My, en wie nie saam met My bymekaarmaak nie, verstrooi. Daarom sê Ek vir julle, elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar lastering teen die Gees sal nie vergewe word nie. En wie iets teen die •Seun van die Mens sê, dit sal hom vergewe word. Maar wie iets teen die Heilige Gees sê, dit sal hom nie vergewe word nie, nóg in hierdie bedeling, nóg in die een wat kom.”


