Lukas 23:1-12

Lukas 23:1-12 AFR20

Toe het die hele menigte opgestaan en Hom na •Pilatus gelei. Hulle het Hom begin aankla en gesê: “Ons het vasgestel dat hierdie man ons volk op 'n dwaalweg lei, en hulle daarvan weerhou om belasting aan die keiser te betaal, terwyl hy van homself gesê het hy is die Gesalfde – 'n koning.” Pilatus vra toe vir Hom: “Is u die koning van die Jode?” En Hy antwoord: “U sê dit.” Daarop sê Pilatus aan die leierpriesters en die skare: “Ek vind geen skuld in hierdie mens nie.” Maar hulle het aangedring: “Hy sweep die volk dwarsdeur die hele Judea op met sy lering, vandat hy in Galilea begin het tot hier.” Toe •Pilatus dit hoor, vra hy of die man 'n Galileër is; en toe hy besef dat Hy afkomstig is uit die magsgebied van Herodes, het hy Hom na Herodes gestuur, wat self juis in daardie tyd in Jerusalem was. Toe Herodes Jesus sien, was hy baie bly, want hy wou Hom al 'n geruime tyd te siene kry, omdat hy van Hom gehoor het en gehoop het om een of ander teken te sien wat deur Hom gedoen word. Hy het Hom uitvoerig ondervra, maar Jesus het hom glad nie geantwoord nie. Die leierpriesters en die skrifkenners het daar gestaan en Hom hewig beskuldig. Herodes, en ook sy soldate, het Hom met minagting behandel en Hom bespot. Hulle het vir Hom 'n deftige kleed aangetrek en Hom na Pilatus teruggestuur. Juis op dié dag het Herodes en Pilatus, wat vroeër vyandiggesind teenoor mekaar was, vriende geword.