Lukas 21:1-9

Lukas 21:1-9 AFR20

Jesus het opgekyk en gesien hoe die rykes hulle bydraes in die offergawekis gooi. Hy sien toe ook hoe 'n arm weduwee twee lepton ingooi, en sê: “Waarlik, Ek sê vir julle: Hierdie weduwee, wat brandarm is, het meer ingegooi as hulle almal. Want hulle het almal uit hulle oorvloed by die bydraes ingegooi, maar sy het, ten spyte van haar behoeftigheid, alles ingegooi wat sy gehad het, haar hele lewensonderhoud.” Terwyl sommige praat oor die tempelterrein, oor die mooi stene en die gewyde geskenke waarmee dit versier is, het Jesus gesê: “Dit wat julle hier sien – daar sal dae kom wanneer nie een klip op 'n ander gelaat word nie; alles sal afgebreek word.” Hulle het Hom toe gevra: “Meester, wanneer sal hierdie dinge dan gebeur, en wat is die teken wat sal aandui wanneer dit gaan gebeur?” Hy het geantwoord: “Pasop dat julle nie mislei word nie, want daar sal baie mense in my Naam na vore tree en sê, ‘Dit is ek!’ of ‘Die tyd is op hande!’ Moenie agter hulle aanloop nie. Wanneer julle hoor van oorloë en opstande, moenie vreesbevange raak nie, want hierdie dinge moet eers gebeur; maar dit sal nie onmiddellik die einde wees nie.”