Levitikus 27

27
Wette oor die afkoop van geloftes
1Die Here het vir Moses gesê: 2“ Praat met die Israeliete en sê vir hulle, ‘Wanneer iemand 'n buitengewone gelofte aflê, en die loskoopwaarde van persone vir die Here bereken word, 3moet die loskoopwaarde die volgende wees: 'n Manlike persoon van twintig tot sestig jaar se loskoopwaarde is vyftig sikkel silwer volgens die standaardgewig wat in die heiligdom geld. 4As dit 'n vroulike persoon is, is die loskoopwaarde dertig sikkel. 5As dit iemand van vyf tot twintig jaar is, is die loskoopwaarde van 'n manlike persoon twintig sikkel en van 'n vroulike persoon tien sikkel. 6As dit iemand van een maand tot vyf jaar is, is die loskoopwaarde van 'n manlike persoon vyf sikkel silwer en die loskoopwaarde van 'n vroulike persoon drie sikkel silwer. 7As dit iemand van sestig jaar en ouer is, is die loskoopwaarde vyftien sikkel as dit 'n manlike persoon is, en tien sikkel as dit 'n vroulike persoon is.
8“ ‘As iemand te arm is vir die loskoopgeld, moet hy die persoon voor die priester bring. Die priester moet dan aan die persoon 'n loskoopwaarde toeken. In verhouding tot wat die een wat die gelofte afgelê het, kan bekostig, moet die priester 'n loskoopwaarde aan die persoon toeken.
9“ ‘ As dit gaan oor diere waarvan dele as 'n offer vir die Here aangebied kan word, sal enige dier wat iemand vir die Here gee, heilig wees. 10 Die persoon mag dit nie vervang nie. Ja, hy mag dit nie omruil nie, nie 'n beter dier vir 'n slegter een, of 'n slegter dier vir 'n beter een nie. As hy wel 'n dier vir 'n ander omruil, dan is daardie dier en die geruilde een heilig. 11 As dit enige •onrein dier is waarvan dele nie as 'n offer vir die Here aangebied mag word nie, moet die persoon die dier voor die priester bring. 12Die priester moet daaraan 'n loskoopwaarde toeken, hoog of laag. Die loskoopwaarde sal dan wees soos wat die priester dit bepaal. 13 As die persoon dit wel wil loskoop, moet hy een vyfde by die loskoopwaarde byvoeg.
14“ ‘ As iemand sy huis as 'n heilige gawe aan die Here wy, moet die priester die loskoopwaarde bepaal, hoog of laag. Soos die priester die waarde bepaal, so sal dit vasstaan. 15As die persoon wat sy huis aan die Here gewy het, dit wil loskoop, moet hy 'n vyfde in silwer by die loskoopwaarde voeg. Dan is dit weer syne.
16“ ‘As iemand van die saailande van sy erfgrond aan die Here wy, moet die loskoopwaarde bepaal word volgens die saad wat daar gesaai word: vyftig sikkel silwer vir elke gomer garssaad. 17 As die persoon sy saailand in die jubeljaar wy, staan die loskoopwaarde vas. 18 Maar as hy sy saailand ná die jubeljaar wy, moet die priester vir hom die silwer bereken volgens die jare wat oor is tot die volgende jubeljaar. Dit word dan van die loskoopwaarde afgetrek. 19As die persoon wat dit gewy het, wel sy saailand wil loskoop, moet hy 'n vyfde van die silwer van die loskoopwaarde byvoeg. Dit gaan dan weer oor na hom. 20As hy nie die saailand loskoop nie, maar dit aan iemand anders verkoop, mag dit nie weer losgekoop word nie. 21Wanneer die saailand loskom in die jubeljaar, is dit 'n heilige gawe aan die Here, soos saaigrond onder die ban. Vir die priesters word dit hulle erfgrond. 22As iemand sy gekoopte saailand, wat nie deel is van sy geërfde saaigrond nie, aan die Here wy, 23moet die priester vir hom die bedrag van die loskoopwaarde bereken tot die jubeljaar toe. Die man moet die loskoopwaarde op dieselfde dag as 'n heilige gawe aan die Here gee. 24 In die jubeljaar val die saailand weer terug aan hom van wie hy dit gekoop het, aan hom vir wie die grond erfgrond was.
25“ ‘ Elke loskoopwaarde moet volgens die standaardgewig wat in die heiligdom geld, bereken word; twintig gera is 'n sikkel.
26“ ‘ Onthou net, wat betref 'n eersgeborene onder die diere wat reeds as eersgeborene aan die Here behoort – iemand mag dit nie wy nie. Of dit nou 'n bees of 'n stuk kleinvee is, dit behoort aan die Here. 27 Maar as dit deel van die onrein diere is, mag die persoon dit terugkoop teen loskoopwaarde. Hy moet 'n vyfde byvoeg. As hy dit nie loskoop nie, moet dit teen loskoopwaarde verkoop word.
28“ ‘ Onthou net, wat betref enigiets onder die ban wat iemand volledig aan die Here gewy het van alles wat aan hom behoort, of dit nou 'n mens, 'n dier of 'n saailand van sy erfgrond is – dit mag nie verkoop word nie, en dit mag nie losgekoop word nie. Enigiets onder die ban is 'n besonder heilige gawe aan die Here. 29Elke persoon wat onder die ban is, elke persoon onder die mense wat volledig aan die Here gewy is, mag nie vrygekoop word nie; so 'n persoon moet beslis sterf.
30“ ‘ Enige tiende wat die grond lewer, uit die saad van die grond of uit die vrugte van bome, behoort aan die Here; dit is 'n heilige gawe aan die Here. 31As iemand wel van sy tiende wil loskoop, moet hy 'n vyfde daarby voeg. 32 En wat al die tiendes van beeste en kleinvee betref, elke tiende een wat onder die herderstaf deurgaan, is 'n heilige gawe aan die Here. 33 Die eienaar mag nie tussen goeies vir 'n slegte soek nie en hy mag nie diere omruil nie. As hy dit wel omruil, is daardie dier reeds heilig en sal die geruilde een ook heilig wees. Dit mag nie losgekoop word nie.’ ”
34 Dit is die gebooie wat die Here Moses by die berg Sinai gegee het om aan die Israeliete oor te dra.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid