Levitikus 10:1-7

Levitikus 10:1-7 AFR20

Nadab en Abihu, die seuns van Aäron, het elkeen sy vuurpan gevat, gloeiende kole daarin gesit en reukwerk daarop gegooi. Toe het hulle hierdie ongeoorloofde vuur voor die HERE nadergebring – wat nie volgens sy bevel was nie. Vuur het van voor die HERE uitgegaan en hulle verteer, sodat hulle daar voor die HERE gesterf het. Toe sê Moses vir Aäron: “Dit is wat die HERE bedoel het toe Hy gesê het, “ ‘Deur diegene wat naby My is, moet Ek as heilig erken word; ten aanskoue van die hele volk moet Ek geëer word.’ ” Aäron het net geswyg. Moses het Misael en Elisafan, die seuns van Ussiël, die broer van Aäron se vader, geroep en vir hulle gesê: “Kom nader, dra julle medepriesters weg hier voor die heiligdom na buite die kamp.” Hulle het nader gekom en hulle in hulle priesterrokke na buitekant die kamp gedra soos Moses gesê het. Moses het vir Aäron en sy seuns Eleasar en Itamar gesê: “Moenie julle hare laat loshang nie en moenie julle klere skeur nie, anders sterf julle en word die HERE vertoornd vir die hele volksvergadering. Maar julle broers, die hele huis van Israel, mag treur oor die brand wat die HERE laat ontvlam het. By die ingang van die •Tent van Ontmoeting mag julle nie uitgaan nie, sodat julle nie sterf nie; want die salfolie van die HERE is aan julle.” Hulle het toe gemaak soos Moses gesê het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid