Josua 6:1-16

Josua 6:1-16 AFR20

Jerigo se poorte was egter dig gesluit vanweë die Israeliete; niemand het daar uitgegaan of ingegaan nie. Die HERE sê toe vir Josua: “Kyk, Ek gee Jerigo, sy koning en sy dapper krygers in jou hand. Julle moet om die stad trek, al die krygsmanne. Jy moet een keer om die stad gaan. Ses dae lank moet jy só maak: Sewe priesters moet sewe •ramshorings voor die ark dra. Op die sewende dag moet julle sewe keer om die stad trek, terwyl die priesters op die horings blaas. En wanneer daar lank op die horing van die ram geblaas word, moet al die manskappe, sodra julle die geluid van die ramshorings hoor, 'n baie harde oorlogskreet aanhef. Die stadsmuur sal dan ineenstort, en die manskappe moet bo-oor klim, elke man reg voor hom uit.” Josua, seun van Nun, het toe die priesters ontbied en vir hulle gesê: “Dra die verbondsark. Sewe priesters moet die horings van sewe ramme voor die ark van die HERE dra.” Hy sê toe vir die manskappe: “Trek op en gaan om die stad; die gewapende manne moet voor die ark van die HERE optrek.” Net toe Josua dit vir die manskappe gesê het, het die sewe priesters wat die horings van sewe ramme voor die HERE dra, opgetrek en op die ramshorings geblaas, terwyl die verbondsark van die HERE hulle volg. Die gewapende manne het voor die priesters wat op die ramshorings blaas, geloop, terwyl die agterhoede die ark volg. Daar is aanhoudend op die ramshorings geblaas. Aan die manskappe het Josua die opdrag gegee: “Julle mag nie 'n oorlogskreet aanhef en julle stemme laat hoor nie. Daar mag nie 'n woord uit julle monde kom nie, tot die dag dat ek vir julle sê, ‘Skreeu!’ dan moet julle die oorlogskreet aanhef.” Josua het die ark van die HERE om die stad laat trek. Dit het een keer om die stad gegaan. Daarna het hulle na die kamp teruggegaan en in die kamp oornag. Josua het vroeg die môre opgestaan. Die priesters het die ark van die HERE gedra, en die sewe priesters wat die horings van sewe ramme voor die ark van die HERE dra, het aanhoudend op die ramshorings geloop en blaas. Die gewapende manne het voor hulle geloop, en die agterhoede het die ark van die HERE gevolg. Daar is aanhoudend op die ramshorings geblaas. Op die tweede dag het hulle een keer om die stad getrek en na die kamp teruggekeer. So het hulle dit ses dae lank gedoen. Op die sewende dag het hulle vroeg, toe die rooidag breek, opgestaan en op dieselfde manier sewe keer om die stad getrek. Net op daardie dag het hulle sewe keer om die stad getrek. Die sewende keer het die priesters op die ramshorings geblaas. Josua het vir die manskappe gesê: “Hef die oorlogskreet aan, want die HERE gee die stad aan julle!