Josua 24:7-15

Josua 24:7-15 AFR20

Hulle het na die HERE om hulp geroep, en Hy het dit donker laat word tussen julle en die Egiptenare. Hy het die see oor hulle laat kom en dit het hulle bedek. Julle het met julle eie oë gesien wat Ek in Egipte gedoen het. Daarna het julle vir 'n lang tyd in die woestyn gebly; en toe het Ek julle ingebring in die land van die Amoriete, wat oorkant die Jordaan gewoon het. Hulle het teen julle geveg, maar Ek het hulle in julle hand gegee, sodat julle hulle land in besit geneem het. Ek het hulle voor julle verdelg. Toe het Balak, seun van Sippor, die koning van Moab, gereedgemaak en teen Israel geveg. Hy het Bileam, seun van Beor, ontbied om julle te vervloek. Ek wou egter nie na Bileam luister nie, en hy het julle toe net geseën. So het Ek julle uit sy hand gered. Julle het toe die Jordaan oorgesteek en by Jerigo aangekom. Die burgers van Jerigo, die Amoriete, die Feresiete, die Kanaäniete, die Hetiete, die Girgasiete, die Hewiete en Jebusiete, het teen julle oorlog gemaak, maar Ek het hulle in julle hand gegee. Ek het 'n vlaag paniek voor julle uit gestuur en dit het hulle, die twee konings van die Amoriete, voor julle uitgedryf. Dit was nie deur julle swaarde en boë nie. Ek het vir julle land gegee waarvoor julle nie hard gewerk het nie, dorpe wat julle nie gebou het nie, waar julle woon, en wingerde en olyfboorde wat julle nie geplant het nie, maar waarvan julle eet.’ “ Daarom dan, julle moet ontsag hê vir die HERE; dien Hom met opregtheid en getrouheid. Verwyder die gode wat julle voorvaders anderkant die Rivier en in Egipte gedien het, en dien die HERE. Maar as dit verkeerd is in julle oë om die HERE te dien, kies julle dan vandag wie julle wil dien, óf die gode anderkant die Rivier wat julle voorouers gedien het, óf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Maar ek en my huis, ons sal die HERE dien.”