Johannes 8

8
1 maar Jesus het na die Olyfberg gegaan. 2Vroeg die oggend het Hy weer by die tempelterrein aangekom. Die hele volk het na Hom gekom, en Hy het gaan sit en hulle geleer. 3Die skrifkenners en die •Fariseërs bring toe 'n vrou wat op owerspel betrap is, en laat haar in die middel staan. 4Hulle sê toe vir Hom: “Meester, hierdie vrou is op heterdaad betrap terwyl sy owerspel pleeg. 5In die •wet het Moses ons beveel om sulke vroue te stenig. Maar u, wat sê u?” 6Dit het hulle gesê om Hom te toets, sodat hulle iets kon hê waarvan hulle Hom kon aankla. Maar Jesus het afgebuk en met sy vinger op die grond geskryf. 7Toe hulle egter volhou met hulle vrae aan Hom, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: “Laat die een wat sonder sonde is, eerste 'n klip na haar gooi.” 8Hy het weer afgebuk en op die grond geskryf. 9Dié wat dit gehoor het, het een vir een, van die oudste af, weggegaan – net Hy het oorgebly, en die vrou daar in die middel. 10Jesus het toe regop gekom en vir haar gevra: “Vrou, waar is hulle? Het niemand jou veroordeel nie?” 11Sy antwoord: “Niemand nie, meneer. ” Jesus sê toe: “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan, en moet van nou af nie meer sondig nie. ”
Jesus die lig vir die wêreld
12Toe het Jesus weer met hulle gepraat en gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal beslis nie in die duisternis leef nie, maar sal die lig van die lewe hê.” 13Die •Fariseërs het toe vir Hom gesê: “U getuig van uself; u getuienis is nie geloofwaardig nie.” 14Jesus het hulle geantwoord: “Selfs as Ek ook van Myself getuig, is my getuienis geloofwaardig, omdat Ek weet waar Ek vandaan gekom het en waarheen Ek gaan. Maar julle weet nie waar Ek vandaan kom of waarheen Ek gaan nie. 15Julle oordeel volgens die vlees. Ek oordeel niemand nie. 16En al oordeel Ek, is my oordeel geloofwaardig, omdat dit nie Ek alleen is nie, maar Ek en die Vader wat My gestuur het. 17 En ook in julle Wet staan daar geskryf dat die getuienis van twee mense geloofwaardig is. 18Ek is die Een wat van Myself getuig, en die Vader wat My gestuur het, getuig van My. ” 19Hulle vra Hom toe: “Waar is u vader?” Jesus antwoord: “Julle ken My nie en ook nie my Vader nie. As julle My geken het, sou julle ook my Vader geken het. ” 20Hierdie woorde het Hy gesê by die offergawekis terwyl Hy op die tempelterrein onderrig het. Niemand het Hom egter gevange geneem nie, omdat sy uur nog nie aangebreek het nie.
Jesus nie van hierdie wêreld nie
21 Jesus het toe weer vir hulle gesê: “Ek gaan weg, en julle sal My soek, en in julle sonde sterf. Waarheen Ek gaan, kan julle nie kom nie.” 22 Die Jode het toe gesê: “Hy gaan homself tog nie doodmaak nie – omdat hy sê, ‘Waarheen Ek gaan, kan julle nie kom nie?’ ” 23 Hy het vir hulle gesê: “Julle is van hier benede; Ek is van daarbo. Julle is van hierdie wêreld; Ek is nie van hierdie wêreld nie. 24Daarom het Ek vir julle gesê dat julle in julle sondes sal sterf; want as julle nie glo dat Ek Is nie, sal julle in julle sondes sterf.” 25Hulle het toe vir Hom gevra: “Wie is u?” Jesus het hulle geantwoord: “Wat het Ek van die begin af vir julle gesê? 26Ek het baie dinge om van julle te sê waaroor Ek julle kan oordeel; nogtans, Hy wat My gestuur het, is geloofwaardig, en wat Ek by Hom gehoor het, dit sê Ek vir die wêreld. ” 27Hulle het nie begryp dat Hy met hulle oor die Vader gepraat het nie. 28Toe sê Jesus vir hulle: “Wanneer julle die •Seun van die Mens verhoog het, dan sal julle begryp dat Ek Is, en dat Ek niks uit my eie doen nie, maar hierdie dinge sê net soos die Vader My geleer het. 29En Hy wat My gestuur het, is met My. Hy het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat vir Hom aanneemlik is.” 30Terwyl Hy hierdie dinge sê, het baie in Hom begin glo.
God nie hulle Vader nie
31Toe het Jesus vir die Jode wat Hom geglo het, gesê: “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels, 32en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.” 33Hulle het Hom geantwoord: “Ons is die nageslag van Abraham en was nog nooit iemand se slawe nie – hoe kan u sê, ‘Julle sal vry word?’ ” 34Jesus het hulle geantwoord: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Elkeen wat sonde doen, is 'n slaaf van die sonde. 35En die slaaf bly nie vir altyd in die huis nie, maar die seun bly vir altyd. 36As die •Seun julle dan vrygemaak het, sal julle werklik vry wees. 37Ek weet dat julle die nageslag van Abraham is, maar julle probeer My doodmaak, omdat julle geen ruimte vir my woord in julle laat nie. 38Ek praat oor wat Ek by my Vader gesien het, maar julle tree op volgens dit wat julle by julle vader gehoor het.”
39Hulle het Hom geantwoord: “Ons vader is Abraham.” Jesus sê vir hulle: “As julle werklik kinders van Abraham was, sou julle die dade van Abraham gedoen het. 40Maar nou probeer julle My doodmaak – vir My, wat die waarheid wat Ek by God gehoor het aan julle verkondig. Dit het Abraham nie gedoen nie. 41Julle doen die dade van júlle vader.” Hulle het toe vir Hom gesê: “Ons is nie uit hoerery gebore nie. Ons het een Vader, naamlik God. ” 42Jesus het vir hulle gesê: “As God julle Vader was, sou julle My liefgehad het, want Ek het van God af uitgegaan en nou is Ek hier. Ek het ook nie uit my eie gekom nie, maar Hy het My gestuur. 43Waarom begryp julle nie wat Ek sê nie? Omdat julle my woorde nie werklik kan hoor nie. 44Julle kom van julle vader, die Duiwel, en julle wil die begeertes van julle vader uitvoer. Hy was van die begin af 'n mensemoordenaar, en hy staan nie by die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy 'n leuen vertel, vertel hy dit uit sy eie, omdat hy 'n leuenaar en die vader daarvan is. 45Maar omdat Ek die waarheid praat, glo julle My nie. 46Wie van julle kan sonde by My uitwys? As Ek die waarheid praat, waarom glo julle My nie? 47Hy wat uit God is, luister na die woorde van God. Dit is waarom julle nie luister nie, omdat julle nie uit God is nie.”
Abraham en Jesus
48Die Jode het Hom geantwoord: “Het ons nie met reg gesê dat jy 'n Samaritaan is en 'n demoon het nie? ” 49Daarop sê Jesus: “Ek het nie 'n demoon nie, maar Ek eer my Vader, en julle doen My oneer aan. 50Ek is nie op soek na eie verheerliking nie; daar is Een wat dit wel vereis, en Hy beslis daaroor. 51 Amen, amen, Ek sê vir julle: As iemand my woord bewaar, sal hy die dood tot in ewigheid nie sien nie.” 52Die Jode het toe vir Hom gesê: “Nou weet ons vir seker dat jy 'n demoon het. Abraham het gesterf en ook die profete, en tog sê jy, ‘As iemand my woord bewaar, sal hy die dood tot in ewigheid nie smaak nie. ’ 53Jy is tog nie belangriker as ons voorvader Abraham wat gesterf het nie? En die profete het gesterf. Vir wie gee jy jou uit?” 54Jesus het geantwoord: “As Ek Myself verheerlik, is my heerlikheid niks werd nie. Dit is my Vader wat My verheerlik, Hy van wie julle sê, ‘Hy is ons God.’ 55Julle ken Hom nie, maar Ek ken Hom. En as Ek sê Ek ken Hom nie, sal Ek net soos julle 'n leuenaar wees. Maar Ek ken Hom, en Ek bewaar sy woord. 56Abraham, julle vader, het daaroor gejubel dat hy die dag van my koms sou sien, en hy het dit gesien en was bly.” 57Die Jode sê toe vir Hom: “Jy is nog nie vyftig jaar oud nie, en jy het Abraham gesien?” 58Jesus het hulle geantwoord: “Amen, amen, Ek sê vir julle, Ek Is al van voordat Abraham gebore is. ” 59Hulle het toe klippe opgetel om Hom te stenig, maar Jesus het hulle ontduik en die tempelterrein verlaat.

Tans Gekies:

Johannes 8: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid