Johannes 21:15-19

Johannes 21:15-19 AFR20

Toe hulle klaar was met ontbyt, vra Jesus vir Simon •Petrus: “Simon, seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle?” Hy sê vir Hom: “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.” Hy sê vir hom: “Laat my lammers wei.” Hy vra hom weer 'n tweede keer: “Simon, seun van Johannes, het jy My baie lief?” Hy sê vir Hom: “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.” Hy sê vir hom: “Pas my skape op.” Hy vra hom die derde keer: “Simon, seun van Johannes, het jy My lief?” Petrus het bedroef geword omdat Hy hom die derde keer gevra het, “Het jy My lief?” en hy antwoord Hom: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.” Jesus sê vir hom: “Laat my skape wei. Amen, amen, Ek sê vir jou: Toe jy jonger was, het jy self jou gordel vasgemaak en gegaan waar jy wou; maar wanneer jy oud word, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou gordel vasmaak en jou bring waar jy nie wil wees nie. ” Hy het dit gesê om aan te dui deur watter soort dood Petrus God sou verheerlik. En nadat Hy dit gesê het, sê Hy vir Petrus: “Volg My!”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid