Jeremia 10

10
God of afgode
1 Hoor die woorde wat die Here oor julle uitgespreek het, huis van Israel! 2So sê die Here:
“Moenie die gebruike
van die nasies aanleer nie;
vir tekens aan die hemelruim
moet julle nie bevrees wees
omdat die nasies daarvoor bevrees is nie.
3Ja, die gebruike van die volke,
dit is nietig;
want hulle kap 'n boom in die bos af –
die handewerk van 'n ambagsman met 'n byl.
4Met silwer en goud versier hulle dit,
met spykers en hamers maak hulle
dit stewig,
sodat dit nie wankel nie.
5Die beelde is soos 'n palmboom
van pletwerk.
Hulle kan nie praat nie,
hulle moet gedurig gedra word;
want hulle kan nie 'n voet versit nie.
Moenie vir hulle bang wees nie,
want hulle kan nie skade aanrig nie;
en om goed te doen
bestaan ook nie by hulle nie.”
6 Nie een is soos U nie, Here.
U is groot, en u Naam is groot in krag.
7 Wie sou nie vir U ontsag hê nie,
Koning van die nasies?
Ja, vir U is dit van pas,
want onder al die wyses van die nasies
en in al hulle koninkryke,
is daar niemand soos U nie.
8 In een opsig is hulle dom en dwaas:
Die vermaning deur nietige afgode
kom van 'n stuk hout!
9Die silwerbeslag word uit Tarsis gebring,
die goud uit Ufas.
Dit is die werk van 'n ambagsman;
dit kom uit die hande van 'n goudsmid.
Pers en purperrooi is die afgode se klere;
dit is alles die werk
van vaardige vakmanne.
10Maar die Here is waarlik God,
Hy is die lewende God en ewige Koning.
Vir sy grimmigheid bewe die aarde,
en nasies kan sy verontwaardiging
nie deurstaan nie.
11 So moet julle vir hulle sê:
“Die gode wat nie die hemel
en die aarde gemaak het nie,
sal van die aarde af verdwyn,
ja, onder hierdie hemel uit.”
12 Hy wat die aarde gemaak het
deur sy krag,
wat die wêreld gevestig het
deur sy wysheid,
en deur sy insig
die hemel oopgespan het –
13 in sy stem, wanneer Hy dit
laat hoor,
is daar die gedruis van water
in die hemel.
Hy laat stapelwolke opstyg
aan die einde van die aarde;
Hy maak weerligstrale vir die reën;
Hy laat die wind vry
uit sy voorraadkamers.
14 Alle mense bewys hulleself dom,
sonder kennis;
elke goudsmid staan beskaamd
oor sy afgodsbeelde,
want sy gietsels is bedrog –
daar is nie asem in hulle nie.
15Hulle is nikswerd afgode,
bespotlike maaksels.
In die tyd wanneer daar met hulle
afgereken word,
gaan hulle tot niet.
16 Die erfdeel van Jakob
is nie soos hulle nie;
want Hy is die Een wat alles vorm,
en Israel is die stam van sy erfenis –
die Here, Heerser oor alle magte, is sy Naam.
Komende vernietiging
17 Tel jou bondel van die grond af
op, Jerusalem,
jy wat onder beleg woon!
18Want so sê die Here:
“Kyk, Ek slinger hierdie keer
die inwoners van die land weg.
Ek het hulle vasgekeer,
sodat hulle gevind kan word.”
19 Wee my! Ek het ineengestort!
Ongeneeslik is my wond!
Ek is die een wat gedink het:
Dit is nou eenmaal my lyding dié,
en ek moet dit dra.
20 Maar my tent is verwoes,
en al my toue is gebreek.
My kinders het van my af weggegaan;
hulle is nie meer daar nie.
Daar is nie meer iemand oor
wat my tent kan oopsprei nie,
wat my tentdoeke regop kan kry nie.
21 Ja, die herders het gewys dat hulle dom is;
hulle het die Here nie geraadpleeg nie.
Daarom kon hulle nie slaag nie,
en is hulle hele kudde uiteengejaag.
22 'n Gerug klink op!
Kyk, dit kom!
'n Groot gedreun kom uit 'n land
in die noorde
om Juda se dorpe
'n woesteny te maak,
'n lêplek vir jakkalse.
23 Ek weet, Here, dat 'n mens
nie oor sy lewenspad beskik nie,
dat iemand nie, terwyl hy loop,
sy eie voetstappe bepaal nie.
24 Straf my, Here, maar regverdig,
nie in u toorn nie,
sodat U my nie uitwis nie.
25 Stort u woede uit oor die nasies
wat U nie ken nie,
en oor geslagte wat u Naam
nie aanroep nie;
want hulle het Jakob verslind,
hulle het hom verslind en vernietig –
sy weiding het hulle verwoes.

Tans Gekies:

Jeremia 10: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid